Stilte - Charné Viljoen

Ek raak vanoggend stil. Iets wat ek vir ‘n lang tyd nie reggekry het nie en selfs af en toe steeds daarmee sukkel. My stil-word lyk dalk anders as joune: ek is lief daarvoor om in die tuin te gaan sit waar die windjie waai en die son op my bak. Jou stilword is dalk waar die kinders om jou hardloop en jy hulle lag-oomblikke inneem óf waar jy in al jou chaos jou kitaar optel en sonder spesifieke note of lirieke, net speel.
Sien, ek het nou tyd daarvoor – of ek dit wil hê of nie…daar is tyd en baie daarvan. In hierdie stil-word oomblikke ervaar ek rustigheid en ek kan asem haal. Dit is asof die aarde saam met my asem haal en vir ‘n oomblik net ontspan. Ons is bevoorreg om ‘n entjie uit die stad te kan bly en ek hoor nie meer die karre wat op die hoofpad verby ons ry nie en ek verbeel my dit is hoe dit in die stad ook klink: karre besoedel nie die lug nie en die paaie dra nie die karre se gewig nie. Die aarde haal asem.
In hierdie tyd word ons ook gekonfronteer met die gedagtes wat ons elke dag rond jaag, veral wanneer jy probeer stil word. Jou vrae raak meer en jou antwoorde minder in hierdie tye, maar God kom nooi jou uit om by Hom skuiling te vind selfs al voel jy dat jy daar in jou huis beskerm is teen die dinge wat in die wêreld om ons aangaan.
Ek nooi jou uit om stil-word oomblikke in jou lewe te vind, tussen die kinders wat rond hardloop en vra wat hulle volgende kan doen of jou werk wat steeds afgehandel moet word al is jy by die huis. Gebruik hierdie tyd om werklik asem te haal.
Groete en seën vir jou en jou familie in hierdie besonderse tyd.
Bid asb. ook vir die wie sukkel om asem te haal weens die virus.
Indien jy dalk kinders by die huis het, is jy welkom om op Pellissier Gemeente se webtuiste of App te gaan loer vir aktiwiteite waarmee jy die kinders besig kan hou. Daar is ook kategese materiaal waardeur jy per graad met die kinders kan werk.
Charné Viljoen
Posted in
Tagged with , , , ,

Related Posts

Recent

Archive

Categories

Tags