Black Lives Matter? - Charles James

Naas COVID-19 is Black Lives Matter (BLM) nou op die meeste mense se lippe. Sport persone is veral in die kollig rondom hulle reaksie op hierdie wêreldwye beweging. Op sosiale media is die rassespanning besig om soos ’n stoompot op te bou. Oud Springbokkaptein Jean de Villiers het wys besluit toe hy sê dat hy geen kommentaar gaan lewer nie. Wat hy ook al sou sê, sou hom in die moeilikheid bring. 
Iemand vra my: “Dominee, wat sê die kerk oor BLM?”
Ek wou die vraag eers soos Jean de Villiers systap, maar het besluit om ’n antwoord te waag deur ’n ander roete te volg. Ons is in die gemeente besig met ’n reeks getiteld “In Jesus spore...”. 
Ek wil graag saam met jou dink oor hoe Jesus voel oor alle mense wat deur die samelewing afgeskryf en uitgestoot word – wie se lewens nie saak maak nie. 
Die gelykenis van die groot bruilofsfees in Lukas 14 is ’n sleutel wat ons help om te verstaan watter lewens in die fokus van Jesus se bediening was. Hy vertel in die gelykenis van ’n man wat ’n groot feesmaal voorberei het en baie uitnodigings uitgestuur het. Toe die feesmaal gereed was, het hy ’n slaaf gestuur om hulle te laat weet dat hulle maar kan kom. Al die genooides het egter verskonings gehad waarom hulle nie kon kom nie. Die man het kwaad geword en sy slaaf beveel om die armes, die kreupeles, die verlamdes en die blindes te nooi. 
Jesus vertel hierdie gelykenis vir die kerkmense van sy tyd...en open ’n venster op God se Vaderhart. Hoe God oor mense dink. Vir die Fariseërs en Skrifgeleerdes was die nooi van arm mense ’n moontlikheid, maar die uitsondering. Maar kreupeles, verlamdes en blindes was taboe! Enige iemand wat misvorm was of ’n defek gehad het, was in die oë van die Fariseërs onbevoeg om die perfekte heiligheid van God te reflekteer. Daarom was niemand met ’n gebrek in die tempel toegelaat nie. Die Fariseërs het daarop geroem dat hulle ook in hulle huise soos in die tempel gehandel het – dus was hulle huise miniatuur tempeltjies! Al die reëls en regulasies wat in die tempel onderhou is, is ook in hulle huise onderhou.
Wanneer Jesus vir hierdie prominente Fariseër sê om doelbewus misvormde en gestremde persone na sy huis te nooi, moes dit lynreg teen sy geloofsoortuiging ingedruis het!
Jesus se ontsteltenis teenoor die Fariseërs se uitsluiting van randfigure is geanker in sy onvoorwaardelike liefde vir elke individu en die diep pyn wat hy ervaar vir elke mens wat ’n randfiguur in die samelewing is, vir elkeen wat uitgesluit word van die voorregte wat ander geniet. 
Ons sou dus kon sê dat Jesus se bediening ons daarop attent maak dat randfigure se lewens saak maak. Alle lewens is vir God belangrik, maar die evangelie roep ons veral om na die randfigure in ons samelewing uit te reik, deur God se oë na hulle te kyk en te sorg dat hulle menswaardig behandel word. Waar mense, van watter kultuur of velkleur van hulle menswaardigheid ontneem word, behoort gelowiges in liefde uit te reik en die onreg te herstel. Dit vra dat ons in mekaar se skoene sal loop om beter te verstaan... veral in die skoene van hulle wat sê dat hulle uitgesluit voel. Dit vra dat ons sal luister voordat ons reageer, om te probeer verstaan voordat ons verdedig. 
As daar verhale is waar swart mense nie menswaardig behandel word nie, moet ons dit hoor en regstel. Maar ons moet ook luister na die verhale van bruin mense, van Indiërs, van wit mense wat voel dat hulle lewens nie saak maak nie - ook na die gruwel verhale van boere, hulle gesinne en werkers wat wreed op plase aangerand en vermoor word. Ons moet luister na die stemme van vroue en kinders wat mishandel word, na die stemme van gestremdes en armes... 
Kom ons gaan stap in Jesus se skoene en vra God om ons te help om alle mense deur sy oë te sien.
Pellissier groete,
Charles James

Related Posts

Recent

Archive

Categories

Tags