Kerk Aanlyn? - Francois Lamprecht

Sondag oggend was so effe meer as 1000 mense deel gewees van ons lewendige beeldsending (livestream) van die oggenddiens. Wie sou ‘n maand terug kon dink dat dit nodig sou wees om ons kerk te sluit?
Maar hier is ons nou. Deure toe, harte oop. Reg vir ‘n nuwe avontuur. Ons maak ‘n plan en gelukkig is hierdie een al drie jaar lank aan die maak. Ons saai nou al vir amper drie jaar dienste uit en wat ‘n voorreg dat ons stelsels in plek was toe Korona SA tref.
So dankie aan almal wat op so ‘n manier saam met ons kerk is. As jy kan, help ander om ook aanlyn te kan kyk. As jy self nog nie, laat weet as ons jou kan help inskakel deur jou selfoon, rekenaar of TV.
Maar hierdie tegnologiese ontwikkeling het ook bepaalde uitdagings vir die kerk. Die Kerk- soos in die hele groot gesin van God. Want ons het nog altyd die gemeenskap van gelowiges as ‘n fisiese eenheid verstaan- dat ons saam met mekaar in dieselfde plek bymekaarkom. Nou is dit besig om te verander. Is ons nou nie meer kerk nie omdat ons nie op dieselfde plek kan wees nie? Dit hang af...is ons saam by God?
Die groot faktor in ons familie status was nog altyd God. So is ons nou minder gemeente omdat ons nie in dieselfde gebou sit nie? Solank as wat ons in God se teenwoordigheid vergader bly ons deel van Sy gesin en Sy gemeenskap. En God kan net so goed in my huis wees as in ‘n groot gebou- veral in hierdie tyd waar ons nie anders kan nie.

So hier is ‘n paar tips vir die tyd van sosiale afsondering:
  • Kyk aanlyn kerk- as jy kan doen dit saam wanneer dit “live” is.
  • Skep ‘n stil ruimte in jou huis waar jy dit kyk. Trek toe die gordyne, sit die fone op silent, steek ‘n kers aan as jy wil. Maar ‘n skep ‘n atmosfeer wat jou help voel dat dit anders is as die res van die dag.
  • Herinner jouself dat daar niks meer heilig is aan ‘n kerkgebou as ‘n gelowige se sitkamer nie.
  • Lééf die boodskap! Vra jouself elke dag af hoe kan ek vandag vir God dien in hierdie omstandighede.
  • Onthou dat jou kerk se bedienings nog voortgaan so hou ook aan om jou bydrae te maak aan jou gemeente. Die geld wat jy sou ingooi elke sondag as kollekte- betaal dit aan die einde van die maand in met die verwysing: "Kollekte". So help jy ook die gemeente om aan te hou om ander te help.

As jy nog nie ‘n erediens live gekyk het nie hier is bietjie detail:
  • Jy kan kyk op ons Facebookblad “Pellissier Gemeente” deur die blad te like en dan Sondag 9:00 in te skakel- jy sal sien daar is ‘n post op wat ‘n “live” label het. Kliek daarop en presto! Hier is die skakel daarvoor: https://www.facebook.com/Pellissier-Gemeente-126862277481123/
  • Jy kan op ons Youtube kanaal kyk. As jy op ‘n smart TV wil kyk is dit eintlik jou enigste opsie. Gaan na Youtube en soek ons “Pellissier Gemeente” kanaal. Subscribe en skakel Sondag 9:00 in. Hier is die skakel daarvoor: https://www.youtube.com/channel/UCseZ6_bACuzBLaWy3zKZ9pw?view_as=subscriber
  • Jy kan ons Pellissier Gemeente app aflaai en kyk onder die “Media” menu op die “Livestream” skakel. Maar hierdie opsie gee jou nie die geleentheid om te kommunikeer met ons tydens die uitsending nie- daarvoor moet jy op Facebook of Youtube kyk.

Related Posts

Recent

Archive

Categories

Tags