Verandering - Deon Langenhoven

Die konstantheid van verandering…..
Ek hoor in verlede week dat ons bekende en “geliefde’ Volksblad nie meer gedruk gaan word nie, maar net elektronies versprei sal word.
Dit is asof dit ‘n tikkie hartseer bring en ek dink toe dadelik aan al die mense wat moontlik daardeur geraak sal word, bv die man op sy motorfiets wat vroegoggend die Volksblad kom aflewer in my buurt, die koerantverkopers by die robotte, en ook natuurlik die mense wat by die druk van die koerant betrokke is.
Dieselfde dag wat ek hierdie nuus kry, hoor ek ‘n media-kundige gesels en hy neem my terug na die ontstaan van televisie in Suid-Afrika, wat eers net een kanaal beskikbaar gehad het! Ek was toe nog ‘n klein seuntjie….
Ja, en vandag is daar letterlik honderde kanale (dalk ‘n paar duisend) van regoor die wêreld beskikbaar!
Die media-kundige wys toe ook verder daarop dat die media-omgewing nog altyd deur verandering gekenmerk is, veral as gevolg van tegnologiese-ontwikkelinge en natuurlik verbruikersbehoeftes wat verander.
Ek besef toe maar net weer dat verandering, soos seisoene is, wat kom en gaan.
Wanneer ‘n mens so bewus raak van verandering, is dit wonderlik om te weet daar is tog ‘n vastigheid, iets, nee Iemand, waaraan ons kan vashou wat nooit verander nie…..
In Psalm 1 skryf die Psalmdigter dat ‘n kind van God soos ‘n boom is wat by waterstrome geplant is en wat sy vrugte gee op sy tyd.
Ja, in die moeilikste van tye het ek geleer kan ek steeds staande bly wanneer God my anker is, want Hy is die Onveranderlike.
Ons word in hierdie tyd met baie verandering en ook onsekerheid gekonfronteer.
Viktor Frankl skryf die volgende oor verandering: “When we are no longer able to change a situation, we are challenged to change ourselves.” 
Dis nou nodig om bewus te word van ons denke oor die veranderings wat ons self mee gekonfronteer word, en waar nodig aanpassings te maak en selfs dalk anders te begin dink daaroor.
Mag jy ‘n geseënde week beleef met God as jou anker.
Deon Langenhoven

Related Posts

Recent

Archive

Categories

Tags