Masker gewoontes - Deon Langenhoven

Dit is byna al ‘n jaar wat ons maskers dra in publieke plekke!
Terwyl ek nou onlangs in die restaurant by die Botaniese tuine sit, besef ek dat ek probeer sien of daar iemand is wat ek ken, want ek kan die mense se gesigte vir ‘n slag behoorlik sien, sonder maskers!
Barbara Brown Taylor skryf in haar boek “An Altar in die World” dat ons as Christene die gewoonte moet aanleer om ander mense te “ontmoet” (encounter) waar ons gaan.
Om bv wanneer ons inkopies doen net ‘n paar woorde met die kassiere te gesels en belang te stel, om te wys ek sien haar raak; Om behoorlik oogkontak te maak en nie maar net met ongeduld die transaksie te wil afhandel nie.
Dit het my weer bewus gemaak daarvan dat die dra van maskers ons so maklik kan laat vergeet dat daar ‘n mens agter elke masker is.
Die Bybel is vol voorbeelde van hoe Jesus met vreemdelinge gesels het, baie keer onbelangrike en selfs uitgeworpe mense uit die samelewing.
Vir Hom was elke mens belangrik, so belangrik dat Hy vir elke mens wat ooit op aarde sou loop aan die kruis gesterf het!
Kom ons maak in hierdie tyd van maskers dra elke dag ‘n punt daarvan om net een of twee mense wat ons pad kruis, te laat voel hulle word nog steeds raakgesien en waardeer! Ja, om vriendelik te wees en te glimlag, selfs agter ons maskers!
Ek hoor graag jou gedagtes hieroor! Epos my by deon@ngkerkpellissier, of bel my gerus by die kerkkantoor.
‘n Mooi en geseënde week vir jou!
Deon

Related Posts

Recent

Archive

Categories

Tags