Onseker - Francois Lamprecht

Ek haat dit om onseker te wees. Meeste van ons doen. Dis deel van die mens se rasionaliteit dat ons antwoorde wil hê. Ons wil dinge verstaan en die lewe moet voorspelbaar wees. Dis die deel van die mens wat maak dat ons soms eerder dom goed sal aanvang om te voel dat ons beheer het oor ons wêreld as om vrede te maak met die onsekerheid. Dis wat maak dat oënskynlik intelligente mense selfs die mees irrasionele, Bybelse onwaarhede sal glo. Soos ‘n eenvoudige oorsaak en gevolg teologie vir siekte. “Tannie Bets het kanker gekry omdat sy skelm die lotto gespeel het al daai jare.”
Ons is gemaklik met snert wat onkundige geestelike leiers opdis solank dit ‘n maklik verstaanbare oorsaak het. Tant Bets kan immers ophou lotto speel en wonderbaarlik genees word. Of ons kan net vertrou en dan hoef ons nie maskers te dra nie en sal nooit Covid kry nie...
Een ding is seker- die lewe is nie so eenvoudig nie en God ook nie. Enigeen wat dink dat die Bybel eenvoudige antwoorde gee op siekte, swaarkry en onsekerheid het nog net Spreuke gelees en nog nie Job nie. Die mees opvallende eienskap van laasgenoemde boek is dat God nooit vir Job enige resep of verklaring gee vir wat gebeur nie. Hy nooi Job eenvoudig om Hom te vertrou ten spyte van...
Dis wat ek het om aan vas te hou vandag. Geen verklarings. Geen tydlyn. Geen idee wanneer lockdown eindig of Covid verdwyn nie en absoluut geen waarborge dat ek en my gesin nie sal siek word nie. Al wat ek het is die vertroue dat God goed en groot is en dat ek Hom kan vertrou vir my lewe... of my sterwe.
Francois Lamprecht
Posted in
Tagged with , , , , ,

Related Posts

Recent

Archive

Categories

Tags