Tydelik - Rikus Hattingh

Ek vermoed jy is dalk ook waar ek is. Ek maak nie meer te veel planne vir môre en oormôre nie. Alles kan letterlik in ‘n dag verander. Ek het dit eerstehands aan my eie lyf gevoel. So 3 weke terug het my vrou net begin siek voel en toe toets sy positief vir Covid. Ewe skielik is als deurmekaar. Ons moet isoleer en elke dag wonder jy wanneer gaan jy begin simptome kry. Rondom jou sien jy hoe siek mense word en hoe baie mense sterf. Dan begin jy met ander oë na dinge kyk. Jy verstaan die Psalm skrywer beter as hy in Psalm 103:15 skryf: “’n Mens leef net vir ‘n kort rukkie. Jy is soos gras wat daarbuite groei. Wanneer die wind begin waai en die son begin skroei, dan hou dit nie lank nie. Die gras gaan net daar dood. So gaan dit ook met die mense”. Jy vra jouself ‘n klomp vrae. Het jy ‘n verskil gemaak. Gaan mense jou mis as jy nie meer daar is nie. Was jy ‘n goeie pa vir jou kinders?
In hierdie deurmekaar tyd lees ek weer 2 Tim 4:7 en 8. Hierdie is Paulus se laaste brief voor sy dood. Hier skryf hy 3 dinge neer wat my gehelp het om weer my fokus reg te kry.
  • 1. Ek het die goeie wedloop afgelê.
  • 2. Ek het die wenstreep bereik
  • 3. Ek het gelowig end-uit volgehou
Ek vra myself toe hierdie vrae. Hardloop ek die goeie wedloop? Maak ek ‘n verskil? Is my fokus nog op die eindpunt, of het ek fokus verloor? Gaan ek geloof behou te midde van omstandighede?
Dis nogal ‘n mond vol, maar toe ek meer lees oor hierdie vers besef ek dat Paulus sit hier in die tronk en wag om terreggestel te word. Dan sê hy hierdie woorde. Ek het gedoen wat ek moes. My vraag aan jou is – as dinge vandag skeef loop, het jy gedoen wat jy moes?
Wat egter vir my die wonderlikste ervaring in hierdie tyd was, is mense se omgee, liefde en gebede. ‘n Vriendin het vir ons inkopies gedoen, goed aangery ens. Vriende het vir ons kos gemaak om te eet. Ons omgeegroep het ons geestelik, emosioneel en fisies gedra. Ek het Christus in mense gesien. Dit is wat kerk is. Dit maak my opgewonde oor die toekoms.
Op Sondag 28 Februarie vier ons as gemeente nagmaal. Van ons omgeegroepe gaan daardie dag saam nagmaal vier. Hulle gaan bymekaar kom en saam na die erediens kyk en saam nagmaal gebruik. Dit sal so lekker wees as elke lidmaat in Pellissier by ‘n omgeegroep kan inskakel en deel kan word van ‘n groepie gelowiges wat saam groei. Ek is so dankbaar dat my omgeegroep daar was in die tyd toe ons ‘n krisis beleef het.
As jy wil deel word van ‘n groep, bel my gerus by 0846206000.
Groete
Rikus

Related Posts

Recent

Archive

Categories

Tags