Pellissier Embleem

Sondae: 08:15 en 10:00  |  Skoolvakansies en langnaweke 9:00  |  Jeugdiens: 18:30

Tel: 051 4224 917  |  Epos: ngk@ngkerkpellissier.co.za  |  Adres: Vlakfonteinlaan 6

                                    GEDAGTE VIR DIE WEEK

Angus Buchan – “God is angry with Cape Town”

Die afgelope week was daar op sosiale media ’n heftige reaksie teen Angus Buchan se rede vir die ongekende droogte in die Kaap. Aan die ander kant was daar ook ’n fanatiese verdediging van Angus en onder andere is al die mooi dinge wat alreeds as gevolg van sy bediening gebeur het, genoem. Ekself ken ook ’n paar sulke mooi verhale. Angus se oproep tot bekering is opreg eie aan die evangelie. In die gesprekke op sosiale media is talle tekste soos patrone uit ’n geweer na mekaar geskiet – elkeen oortuig van sy eie standpunt. Wanneer gelowiges teenoor mekaar gaan staan – ly ons getuienis na die wêreld skade. Ons verloor mekaar, ons hoor mekaar nie en die eenheid tussen gelowiges ly skade. Daarom pleit ek vir ’n saam-dink, saam gesels om mekaar te help om God se Woord so verantwoordelik as moontlik te hanteer. Ons het mekaar nodig. Die eerste stap in so ’n saam-gesels is egter om seker te maak wat Angus gesê het. Ek het weer na die YouTube video gaan kyk en baie fyn probeer luister ( https://youtu.be/742CHiAaDic )

Die rede waarvoor die gebedsgeleentheid van 22 Maart in Mitchellsplain beplan word, resoneer ook met my hart – om te bid teen misdaad, moorde, disrespek vir mense se lewens, prostitusie, alkoholisme, dwelmverslawing, rassisme, armoede en die gaping tussen ryk en arm. Die volgende woorde van Angus vra egter dat ons as gelowiges met mekaar in gesprek moet tree – nie om iemand te verkleineer of af te kraak nie, maar om mekaar te help met die groot taak om die Bybel verantwoordelik te lees. Om te sê “God is not happy with Cape Town. He has had enough” en dan die volgende woorde: “It will rain when the people of Cape Town and the Western Cape repent” vra ’n dieper gesprek. Kan ons so eenvoudig met ’n oorsaak-gevolg teologie werk? As dit in Mei maand begin reën, beteken dit dan almal hulle bekeer het? Wat dan van die mense in Johannesburg. Hulle beleef ’n uitsonderlike goeie reën seisoen. Het al die mense daar hulle tot God bekeer? Is die sonde waarteen 22 Maart gebid gaan word, dan nie meer teenwoordig in bv. Johannesburg nie? Jesus se woorde in Matteus 5 kom by my op – God laat dit reën oor die wat reg doen en dié wat verkeerd doen.

En wat van my vriend wat Suid-oos van Bloemfontein boer. ’n Pragtige, toegewyde kind van die Here. Vir vier jaar gaan hy gebuk onder een van die ergste droogtes. Dan gebeur dit dat reënbuie langs sy plaas verby trek. Die bure se veld lyk mooi, maar by hom vrek die vee…Straf God hom? Ek twyfel…miskien beproef, maar nie straf nie!

Om die gesprek in sy volheid te voer gaan baie bladsye opneem. Ek wil dus enkele opmerkings maak wat dalk weer tot verdere gesprek kan lei.

Baie Ou Testament tekste kan gebruik word om die stelling van Angus te verdedig – soos Deuteronomium 28:15  “Maar as jy nie luister na die stem van die HERE jou God, om sorgvuldig te hou al sy gebooie en sy insettinge wat ek jou vandag beveel nie, dan sal al hierdie vloeke oor jou kom en jou inhaal.” asook  

Deuteronomium 28:24 “Die HERE sal die reën van jou land poeier en stof maak; van die hemel sal dit op jou afkom totdat jy verdelg is.”

Die uitdaging is altyd om die Bybel in sy geheel te lees (Die Ou Testament saam met die Nuwe Testament). Sekere tekste in die Ou Testament word nuut belig vanuit die Nuwe Testament en sekere tekste mag nie geïsoleerd geïnterpreteer word nie (anders sou ek nie vandag Spareribs en Prawns kon eet nie! Levitikus 11 en Handeling 10). Bybel interpretasie vra dus ’n meer genuanseerde teks uitleg eerder as om al die Bybelse tekste dieselfde te lees.

In die Nuwe Testament breek God se genadige Nuwe Verbond aan. En die kruis van Christus het iets met God se straf te doen. Om sonder die kruis na sekere Ou-Testamentiese tekste te kyk is om die nuwe genade roetes van God sedert Christus mis te lees. Ons hoor dikwels die vraag: “Is God dan nou anders as in die Ou Testament?” Terwyl die Ou en Nuwe Testament God se Woord bly is daar gewis ‘n verskil in die manier waarop God met ons werk in die Ou en Nuwe Testament! Het jy al opgelet dat daar nêrens in die Nuwe Testament verwys word na God wat reën bring nadat mense tot inkeer gekom het nie? Dit terwyl reën en droogte ‘n baie prominente tema vorm in die Ou Testament.

Christus het gekom om sondaars te red en ons lees dat God sy oordeel oor mense en stede uitstel tot die allerlaaste. Intussen soek Hy en red Hy as die Goeie Herder.

Toe Jesus se dissipels in Lukas 9 vuur uit die hemel wou bid om sondaars in Samaria te straf, het Jesus hulle dit verbied. Hy het gekom om God se genadejaar uit te roep vir stukkende mense, vir verlore sondaars sonder hoop! Daarmee saam in Lukas 13 en Johannes 9 maak Jesus dit baie duidelik dat die Vader nie ‘n eenvoudige oorsaak en gevolg benadering tot mense se omstandighede het nie. Met so ‘n teologie loop ons die gevaar om elke siekte, elke stuk armoede of swaarkry die gevolg van die sieke of arme se sonde te maak. Soms ook ons eie. En alhoewel dit soms aanloklik lyk omdat dit ons help sin maak van ons eie en ander se swaarkry – vra ‘n verhouding met God soms vertroue ten spyte van komplekse en onverklaarbare omstandighede.

Daar is nog baie ander Nuwe Testament tekste wat vir ons leer dat die kruis van Jesus Christus God se oordeel in ’n ander lig stel. Ek wil egter by een teks stilstaan. Die gelykenis van die onkruid tussen die koring in Matteus 13. Wyle Murray Janson het in sy boek “God boer met genade” baie mooi lyne getrek tussen God se genade en oordeel en ons beperkte insig rondom hierdie saak. Daar word vertel van die vyand, wat een nag toe hulle geslaap het, onkruid tussen die koring kom saai het. Die slawe vra toe die eienaar of hy wil hê dat hulle die onkruid moet uittrek. Maar die eienaar sê nee. ’n Baie eienaardige antwoord…want God se genade is eienaardig! In hierdie gelykenis gaan dit om die genade van God: dat God nie die struikelblokke uit sy lande verwyder nie, maar hulle tot op die dag van die oes laat bly staan. Ons wil natuurlik tot elke prys dat die struikelblokke verwyder, dat die onkruid uitgeskoffel word.

Maurice Hindus, ‘n Rus wat lank in Amerika gewoon het, vertel in een van sy boeke oor die reis na Kommunistiese Rusland. Hy het onder meer ook besoek afgelê by ‘n predikant wat hy nog uit sy kinderdae geken het. In sy vervalle pastorie het hy gepraat oor die ontsettende ateïstiese propaganda waarmee sy mense gebombardeer word. “Maar dit is nog nie die ergste nie”, het hy fluisterend vertel toe sy vrou vir ‘n oomblik uit die kamer was, “die ergste is dat my geloof begin wankel het. Ek het altyd gesê dat God regeer, maar Hy doen sulke onbegryplike dinge. Onlangs het daar êrens in Siberië ‘n meteoriet geval en ‘n hele stuk oerwoud vernietig. Ek wil egter weet waarom God nie dié meteoriet op die Kremlin laat val en sodoende die goddelose regering vernietig het nie?”

Hierdie leraar se gedagte is dat God met meteoriete die struikelblokke sal doodgooi.

Só dink ons ook baie keer. Waarom vernietig God nie met een slag al die moordenaars, die godslasteraars, die dwelmsmouse, die rassiste, die korrupte regeringsamptenare en sakemanne nie?  Waarom laat Hy toe dat goddelose mense se afskuwelike dade so welig in ons land groei?

Waarom vee die Here nie die wêreld skoon nie? Waarom sê God: “Los die onkruid?”

Die teks gee twee grondige redes vir hierdie “nee” van Hom.

Die eerste rede is dat ek en jy te onhandig is: “Nee, dat julle nie miskien, as julle die onkruid bymekaar maak, die koring daarmee saam uittrek nie” (vers 29).

Ons is onhandig. Ons kan nie vir God wil voorskryf nie. Ons is te geneig om met wêreldse maatstawwe na mense te kyk. . Wie is ons om te oordeel oor hoe sondig Kaapstad is of nie is nie en hoe vergelyk ons dit met ander stede (As jy jou wil beroep op die konsekwentheid van God se Woord- wees dan konsekwent daarmee!)? Of om te besluit dat ’n spesifieke droogte direk aan die sonde van mense gekoppel is al dan nie – na my mening is dit bietjie voorbarig! Ja, dink aan die onkruidhoop net buitekant Jerusalem: Golgota het hulle dit genoem. Wie was dit wat hulle op ‘n dag daar uit die tuin van God wou verwyder? Niemand minder nie as die Seun van God self, dié Een wat net koring was, en by wie geen onkruid gevind is nie.

Die tweede rede waarom hierdie boer liewer nie die onkruid vóór die oesdag uit sy lande wil laat verwyder nie, is selfs nog oortuigender as die eerste. Dis naamlik dat die verskil tussen koring en onkruid nie so geweldig duidelik is as wat óns sou meen nie! Vir onkruid gebruik die Here hier ‘n woord wat ons waarskynlik met “dowwe koring” moet vertaal – dis ‘n onkruid in Palestina wat aanvanklik merkwaardig baie soos koring lyk, maar eers later sy ware kleur en karakter wys.

Ons glo dat dit ‘n uitgemaakte saak is: dis ‘n kerkmens hierdie, en dus: koring; en dis ‘n wêreldling daardie, en dus: onkruid. Vir God is die saak egter nie so simplisties nie. En as God nou reeds moet begin uitskoffel, moet dié wat so maklik koring uitwys, dalk ook deur die skoffel se lem getref word.

Dis eers as ek en jy so ‘n bietjie van die ander se onkruid-wees vergeet en onsself in God se lig begin beskou, dat ons stellig begryp waarom dit in hierdie gelykenis gaan. Dan verstaan ons skielik waarom God so eienaardig boer: omdat Hy genadig is, omdat Hy met genade boer. En dan begryp ons hierdie genade van Hom, wat nie nou reeds uitskoffel nie, maar eers tot die oes wag.

Die diensknegte dink ook so wanneer hulle die boer vra of hulle die onkruid kan uittrek en hul verbasing is groot wanneer die boer sy kop skud, dat God nie saamstem nie, maar dat sy antwoord “Nee!” is.

Hulle moet saamgroei. Met oestyd sal die onkruid van die koring geskei word. Dan sal die koring na die skuur geneem word en die onkruid verbrand word. God stel sy oordeel tot die laaste uur uit.

As ek weer aan die Kaapstad voorbeeld dink – saai die evangelie, bid teen die sonde, maar moenie self besluit wie onkruid en wie koring is nie, moenie self besluit watter natuurrampe God se straf is en wat nie – dit is dalk ’n bietjie meer ingewikkeld.

Maar kan onkruid in koring verander word?

By God kan dit, want God boer met genade. Jesaja het dit reeds eeue gelede voorspel: As God se genade reën oor die onkruid val, kan die wonder op sy akker gebeur dat daar vir ‘n doringboom ‘n sipres opgaan en vir ‘n distel ‘n mirteboom. In God se tuin word doringbome sipresse, distels word mirtebome, Saulusse word Paulusse, Simons word Petrusse…en ek en jy verander ook.

Ja, natuurlik moet ek en jy ook verander! In hierdie gelykenis so vol genade is daar ook van die vuuroond, van die hel sprake (v.42). God se genade is nie ‘n goedkoop genade nie, het Bonhoeffer tereg gesê. Dit het hom duur gekos, wonde en die dood gekos. Ons moet toelaat dat dit ons ook iets kos, naamlik ons onkruid-wees en ons onkruid-wil-wees – om dan die gratis genade te ontvang om koring te word.

Kan ‘n mens pertinent iets doen om enigsins seker te maak  dat jy nie meer onkruid is nie, maar koring? ‘n Mens kan. Minstens drie dinge:

Eerstens moet ek gered word deur Jesus as my Saligmaker te aanvaar. Die genade geskenk van Jesus se redding in die geloof te aanvaar.

Ten tweede, jy kan jou skoffels uit jou hande laat val, hulle heeltemal weggooi. Dit kos egter jare se werk om die baie skoffels uit ons lewens te verban. Skoffel is tog so lekker…en so maklik. Dis mos baie makliker om die splinter in ‘n ander se oog raak te sien en die balk in my eie oog te vergeet. Dis so maklik om die dominee te kritiseer, die leiers die skuld te gee, om die onkruid in my buurman se tuin raak te sien.

Wie egter wil leef soos Christus van ons vra, moet leer om sonder hierdie skoffels klaar te kom; so nie, leef ons ongehoorsaam. Gooi die skoffels weg.

En die derde: verruil jou skoffels vir die saaisak, die saaisak van vergifnis. En begin daaruit saai oral om jou heen, op die pad, op die klipbanke en binne in die dorings. Vergewe die mense hul oortredings. Vergewe hulle vir wat hulle is en wat hulle doen. Vergewe hulle dat hulle anders is en anders dink.

Ek kom terug na Kaapstad toe. Ek lees die volgende opmerking van Floors en Marié Avenant wat deelneem aan die debat oor oom Angus se opmerking:

“Ons sien God se liefde in elke pleit gebed. En veral ook in elke bottel/kan water wat gevul/ aangery word. Die boerdery gemeenskap van die breër Grabouw gemeenskap wat van hulle kosbare water opgeoffer om 20 dae na Dag Zero by te voeg…dit is vir ons as gelowiges God se liefde in aksie.”

Kom ons as gelowiges vat hande, kom ons leer bymekaar, kom ons help mekaar om die Bybel verantwoordelik te interpreteer, kom ons wees Jesus se hande en voete midde in die stukkend en seer sodat die wêreld kan glo!

Charles James (namens die leraarspan van NG Gemeente Pellissier)

 

 

       

Ontdek jou genade gawes – Vraelys

Omgeegroep (Miracle of life change) (boekie)docx

NGPellissier terugvoer na Besluite van Spesiale Sinodale Vergadering 20161110 begeleidende brief

Dieselfde Geslag Verhoudings – Waaroor het ons konsensus

     

 

Kliek hieronder om ons Youtube blad en die Jeug se Facebook bladsy te besoek:

youtube

https://www.facebook.com/groups/pellissierjonk/

Facebook(Kliek op opskrif vir skakel na Facebook bladsy)

KFC - Kids For Christ
KFC - Kids For Christ added a new photo.2 years ago
KFC - Kids For Christ
KFC - Kids For Christ added a new photo.2 years ago
KFC - Kids For Christ
KFC - Kids For Christ3 years ago
Lekker poppekas vandag! Volgende week is ons laaste byeenkoms vir die kwartaal.
KFC - Kids For Christ
KFC - Kids For Christ3 years ago
Dink jy ook hoe awesome dit moes gewees het om te kon leef in die tyd van die 10 plae. Om te sien hoe God die Egiptenare straf. Dink net hoe amzing dit moes gewees het om deur die woestyn te trek en jy kan SIEN hoe God voor jy uittrek in 'n vuur- of wolk kolom.
KFC - Kids For Christ
KFC - Kids For Christ3 years ago
Ons les vandag was oor Noag. Het jy geweet Noag was 601 jaar oud toe hy uit die ark geklim het. Dit wil sê hy was 600 jaar oud toe hy die ark gebou het. Awesome!
KFC - Kids For Christ
KFC - Kids For Christ3 years ago
Alles in bestaan uit die klein deeltjies atome. Selfs jy. As jy wil weet uit hoeveel atome jy van gemaak is. Vat jou gewig en sit 27 nulle agter aan. Amazing!! God het jou perfek gemaak!!

  • Kopiereg © 2013 NG Kerk Pellissier