Vaxxers en anti-vaxxers- Charles James

“Vaxxers en Anti-vaxxers”
Toe ek “The blood of Christ is my vaccine!” – prentjie op Facebook sien, het ek geweet wat my tema vir hierdie week se “Leraars gesels” gaan wees.
Ek wil nie fokus op die mediese redes waarom ek geënt of nie geënt moet word nie. Daar is baie inligting beskikbaar en ek pleit dat ons asseblief na goeie mediese navorsing sal luister en nie enige iets wat mnr. Google vir ons uitspoeg sal verkondig vir die waarheid nie.
Ek wil graag gesels oor ‘n teologiese of godsdienstige rede wat sommige gelowiges voorhou om hulle nie wil laat ent nie  – en dit word weerspieël in die woorde op hierdie prentjie - “The blood of Christ is my vaccine!”.
’n Teologie wat sê dat God my sal beskerm en dat ek geen verantwoordelikheid het om self na te kom nie.
Die eerste vraag wat by my opkom, is hoe verstaan ons die bloed van Christus? Die wyn of druiwesap wat ons tydens nagmaal gebruik, herinner ons juis aan die bloed van Christus wat met sy kruisiging gevloei het. Was dit om my van enige aardse siekte, ramp en teëspoed te beskerm? Nee! Sy bloed herinner my aan sy lydensweg: Hoe Hy sy lewe gegee het; hoe Hy soos ’n koringkorrel in die grond geval en gesterf het; hoe Hy die lydensbeker gedrink het; hoe Hy van God verlate was en uitgeroep het: “My God, my God, waarom het U my verlaat?” (Markus 15:34), sodat ons nooit deur God verlaat sal word nie. Dit is ’n waarborg dat Jesus Christus die dood oorwin het. Dit is ’n waarborg dat Jesus Christus in ons plek gesterf het en dat die wat glo die ewige lewe sal ontvang.
My volgelingskap van Christus waarborg nie dat ek nie gaan siek word, vervolg gaan word of dat teëspoed oor my pad gaan kom nie. Inteendeel, dit is dikwels andersom. Maar God belowe my wel dat Hy in alle omstandighede met my is en dat niks of niemand my van sy liefde kan skei nie (Romeine 8 ) .
Prof. Stefan Joubert skryf verlede week in die Beeld se “Goeie Nuus” die volgende:
“Die Beeld het verlede maand verwys na ’n studie wat bevind het dat meer as 50% van Suid-Afrikaners meen gebed bied beter beskerming teen Covid-19 as inentings.
Wel, ek twyfel nie aan gebed nie. Dit is my gunsteling manier van kommunikasie in hierdie lewe.
God is my Hemelse Vader. Deur gebed aanbid ek Hom, en deur gebed vra ek Hom vir daaglikse brood. Maar ek weet Hy is nie ’n Hemelse Verskaffer van dienste wat alle ander dienste skielik oorbodig verklaar nie.
Ek vra God vir daaglikse brood, maar ek werk hard om brood op die tafel te sit. Ek bid vir beskerming, maar ek het goeie sekuriteit in plek. Ek bid vir gesondheid, maar ek gaan dokter toe as ek siek is. God is nie die Plaasvervanger vir medisyne of inentings nie.”
Dit laat my dink aan ’n T-hemp van ’n vrou met die woorde “If you don’t need a mask because God will protect you, why do you need a gun?” As ek so voel oor God se beskerming – waarom het ek korttermyn versekering, waarom het ek ’n alarmstelsel, waarom sit ek my sitplekgordel aan as ek in my motor ry...
Ora et labora! Bid en werk. Ekself het reeds my tweede Pfizer-ent ontvang.
PELLISSIER SE NUWE PREEK REEKS
Ons as gemeente is in ‘n seisoen van dieper. Ons staan al die afgelope maande  stil die skoen ritme. Sondag 12 September skop ons nuwe reeks “Ander skoene” af. Van die temas wat aangespreek gaan word, is in die skoene van Jesus, in die skoene van ’n ouer wat ’n kind verloor het, in die skoene van ’n siek persoon en in die skoene van ’n bruin persoon. Die reeks eindig Sondag 24 Oktober.

Recent

Archive

Categories

Tags

2019 2020 2021 God aanleer aanlyn aarde adrie aflegging afrikaners afrika antwoord app aswoensdag as bagasie belydenis berge betrokke bid black boorgat bouwerk bybel charismaties charles charle charne christenskap church community corona covide covid dankbaarheid dankbaar deon deurkollektes dieper digitaal donkie dood doopkategese doop dramaties druk ekologie ek energie engels erf familiefees familie fees finansies fokus folau francois frank frustrasie gay gebed gees gee geld geloof gelowiges gemeenskap gemeente geregtigheid gesels gesonde gesond glimlag glo gratis groei groter gr habitat heilige gees herwinning homoseksueel hoop huwelik imstaying inenting inent ingangsportaal inskryf inskrywing israel james japan jesus jeug job jonk kategese kerk kinders kind kollektes kontant koop korona korrup kos krag kruisig kruis kunstefees lamprecht langenhoven lente leraars gesels leraars livestream lives lockdown loop lydenstyd ly maklike maria masker matter media mekaar merk van dier ngkerk ng nuusflitse nuus nuut omstandighede onderwys online onseker oordeel opperman opsie B opstaan opstanding ouerskap ouers paasfees paasnaweek paulus pellissier pinkster ps 121 rasse reeks reen reis rikus ritmes rou seer seisoen selfbeheersing selfde geslag sending sien skande skool staan op stalletjie staying stil stoel suid afrika suid taak tas tattoo teenwoordig teologie tydelik tyd uitsaai vaccine verandering verlies vertrou verwarming viljoen volbring volksblad voorbeeld vrees vreugde vriendelik water wegbreek wereld wifi zinzi