Nie my Jesus nie...

Daai is nie my Jesus nie...
Ag, dit maak nie saak in watter kerk jy is nie- Jesus is mos daar”. Het jy dit al gehoor? Of dit al self gesê? “Dit maak nie saak na watter kerk toe my kind gaan nie, solank hulle gelukkig is.”

Ons het onlangs Pinkster gevier en weer besin oor wie die Heilige Gees is en hoe Hy in ons werk. Wat natuurlik ‘n paar gesprekke begin oor hoe ander kerke dink oor die Heilige Gees. In die proses maak ek weer kennis met ‘n paar interpretasies van die Bybel wat wissel van anders tot belaglik.

Ek staan verstom oor hoe party gelowiges en kerke God se Woord lees. Of eerder, klaarblyklik nie lees nie. In die proses skep hulle vir lidmate en veral vir kinders absurde beelde van die Heilige Gees en van Jesus. In sommige gevalle kan ek regtig nie eers dit wat hulle aanbid herken as Jesus nie.

En die gees wat party van hulle vang...dis só ver van die Bybel se beeld van die Heilige Gees dat jy net verstom kan staan om te dink mense wat die Bybel lees gemaklik is daarmee.

As ouers moet ons die moeite doen om uit te vind watter Jesus ‘n kerk aanbid as my kind daarheen wil gaan- want dis dalk nie die Jesus wat jy in die Bybel ontmoet nie. En die gees wat hulle vat daar- dis dalk nie die Heilige Gees nie...

Soms is dit subtiel- soos ‘n Jesus wat sal seker maak dat niks sleg met jou sal gebeur as jy genoeg bid nie (veral nie as jy genoeg geld gee nie). Soms is dit minder subtiel- soos ‘n gees wat jou maak omval, lag, skree  en sonder twyfel altyd in tale sal laat praat. Ons het so gewoond geraak daaraan dat party kerke dit so interpreteer dat ons verras is om te sien dis geheel en al in stryd met die Bybel.

Niks daarvan is nuut nie – 2 Kor. 11:4  Ek sê dit omdat julle so maklik daarmee genoeë neem as iemand ‘n ander Jesus kom verkondig as wat ons verkondig het, en julle neem net so maklik ‘n ander gees en ‘n ander evangelie aan as dié wat julle van ons ontvang het.

Dis belangrik om seker te maak jy is besig om die regte Jesus te volg want ‘n ander een kan ons nie red nie.
Dis belangrik om die regte Heilige Gees te volg- want ‘n ander een hou ons besig met cheap tricks terwyl die Heilige Gees ons wil lei om Jesus te volg en die wêreld te verander soos Hy dit wil doen.

Related Posts

Recent

Archive

Categories

Tags