Wat is in jou tas - Rikus Hattingh

Ons het gister begin met ons reis deur die 10 gebooie. Die inleiding het gegaan oor die gedagte van “vry” wees..
Toe die president die grense oopmaak dat ons sonder beperkings kan reis, was dit vir my baie lekker om op Facebook na almal se foto’s te kyk. Baie mense het die kans aangegryp om vir ‘n paar dae vakansie te gaan hou. Veral die blomme in Namakwaland het baie mense getrek, want die blomme was die mooiste in baie jare. My eie ouers het gou weggeglip om te gaan blomme kyk. Dit het my laat terug dink aan my kinderdae. My pa was baie lief vir reis, maar daar was net soveel plek in die kar en ons manne moes leer om lig te pak, julle weet mos daar was nog ‘n sussie en ‘n ma.. Jy moes probeer om alles wat jy nodig het in een sakkie te kry.
Ek was die naweek Johannesburg toe, en toe ek my tas in die kar laai, besef ek ek het afgeleer om min te pak. Deesdae pak ek vir elke moontlike seisoen. Gaan dit nie koud wees nie? Netnou is die funksie meer formeel as wat ek gedink het ens.. Dan vat jy klomp onnodige bagasie saam wat jy net so weer terug bring.
Dit het my baie laat dink..
In my stiltyd lees ek die volgende verse in die boek Hebreers raak:
Hebreers 12:1-2
“Terwyl ons dan so 'n groot skare geloofsgetuies rondom ons het, laat ons elke las van ons afgooi, ook die sonde wat ons so maklik verstrik, en laat ons die wedloop wat vir ons voorlê, met volharding hardloop, (2) die oog gevestig op Jesus, die Begin en Voleinder van die geloof. Ter wille van die vreugde wat vir Hom in die vooruitsig was, het Hy die kruis verduur sonder om vir die skande daarvan terug te deins, en Hy sit nou aan die regterkant van die troon van God.”
Ons dra groot swaar tasse met emosionele en geestelike bagasie saam. Verwyte, haat, woede, skuldgevoelens en soveel meer. Dinge is op ‘n mespunt in ons land en ons is moedeloos. Ons probeer soms wegkom van hierdie bagasie deur te trek na ‘n ander land, te skei, te drink of wat ook al, net om agter te kom dat ons hierdie bagasie saam neem as ons trek, saam neem in ‘n nuwe verhouding in.
Daar is maar net een oplossing, en dit is om ons tasse te begin uitpak, om uit te pak maak ons bang, dit is ongelukkig die enigste opsie om lig en vry te leef. Wat is daar in jou lewe wat jy saam dra en wat gaan jy maak om dit uit jou tas te haal?
Ek wil verseker weer begin ligter reis… Wat van jou?
Onthou jy is vrygemaak..
Onthou om te onthou:
Donderdagaand 20:15 het ons ‘n “livestream” leraars gesels op Facebook met ‘n paar skoolhoofde. Skakel gerus in en kuier saam..
Uitdaging:
Ons hele Pellissier familie- een van die wonderlikste dele van kerkwees is om saam te kan sing in ‘n erediens. En ons verlang al groot daarna! So terwyl ons nog gereedmaak om terug te keer na vol eredienste wil ons graag saam met mekaar ‘n lied sing! 
So ons nooi jou om asb komende Sondag jouself of jou gesin af te neem met jou selfoon terwyl julle In die Hemel is die Heer saam met ons sing tydens die erediens uitsending. Dan stuur jy die video vir ons teen maandagaand asb en ons gaan dit saamsit in ‘n lekker familie video van ons gemeente wat saam God se naam groot maak! 
Moenie skaam wees nie- jy sal nie alleen sing nie- ons is almal daar!

Related Posts

Recent

Archive

Categories

Tags