Deur kinder oë - Charné Viljoen

Paulo Coelho het gesê: “A child can teach you three things: to be happy for no reason, to always be curious and to fight tirelessly for something”
-           ‘n Kind se perspektief oor oom Koerouna.
My ma praat van die klein groen monstertjie wat ek nie kan sien nie.  My pa praat reguit en sê die monstertjie se naam is Koerouna!  Met my ogies op skrefies toegeknyp en my neus in ‘n bondeltjie opgetrek kan ek hom regtig nie raaksien nie, al probeer ek hoe hard.  My ma sê dat al kan ek hom nie raaksien nie, is hy nogsteeds hier en niemand weet regtig vir hoe lank hy gaan bly nie. 
Askuus, my ma sê dit is ongeskik om nie eers jouself voor te stela an iemand nie.  My naam is Ané’tjie en ekke is vier jaar oud.  Ek is baie lief vir my Jog the Frog en verassings wat pappa so nou en dan van die winkel af vir my bring.  Hy het nounet weer gery met die masker op sy gesig en mamma se oond-handskoene op sy hande…ek hoop hy bring dalk vandag weer ‘n verassing, hy het nogal lanklaas.
Mamma en pappa praat baie keer daar in die kombuis oor die oom Koerouna en dit klink of hy ‘n slegte monstertjie is.  Pappa is bekommerd oor die kos en sê baie keer dat ons dalk nog moet gaan koop en dan sê mamma net weer: “Ontspan my man, alles sal reg uitwerk!!”  Ek dink mamma is reg!  Alles het nog net reg uitgewerk!  Vandat oom Koerouna kom kuier het, is mamma en pappa baie meer by die huis.  Pappa kry kans om saam met my bal te speel en mamma bak saam met my koekies.  Mamma het ook nuwe maniere geleer:  sy gooi nie meer oorskied kos in die asdrom nie, maar maak klomp nuwe kos daarmee – dis nie almal ewe lekker nie, maar dit maak darm my magie vol.  Mamma sê dat ek nog elke dag mooi moet aantrek en nie in my pajamas kan rondloop nie, maar pappa gee my darm die kans om tot middagete in my jamies rond te loop.
Ek dink oom Koerouna kan nog ‘n bietjie by ons kuier, want mamma en pappa slaap ook weer in dieselfde kamer.
Ek weet dit is bietjie selfsugtig van my dat ek wil hê hy moet bly, want baie mense kry swaar oor oom Koerouna wat kom kuier het.  Dalk moet hy net help om die kos te koop, hy kan mos nie verniet net bly vir so lank as wat hy wil nie?
Ek dink dis ‘n goeie plan, anders moet hy gaan!
Posted in
Tagged with , , , , ,

Related Posts

Recent

Archive

Categories

Tags