Deurmekaar - Rikus Hattingh

“Sjoe maar dinge is deurmekaar”… “Wie sou ooit kon dink?”.. Dis nogal woorde wat ek die laaste tyd baie hoor. Die ergste is, die woorde is waar. Die laaste 3 maande was seker die deurmekaarste tyd in die moderne mens se geskiedenis. Die een oomblik gaan dinge soos altyd en oornag verander ons hele lewe. Ons moet ewe skielik heeltemal anders dink oor alles. Wie sou ooit kon dink dat “maskers” deel sal wees van die kleredrag wat ons elke dag dra. Hande was het deel geword van ons daaglikse roetine.
Wat my egter vang is dat daar soveel onsekerhede is. Ons is gewoond aan beplan. Als werk volgens ‘n program, nou moet ons elke dag wonder wat gaan vandag gebeur. Ek seker julle het ook beplan dat die kinders vandag gaan terugkeer skool toe. Ons onderwysers werk hulleself oor ‘n mik net om ‘n paar dae voor die tyd te hoor – Jammer, ons gaan dit nou nie meer so doen nie. Daar vlieg al hul beplanning.
Die grootste frustrasie is dat almal ewe skielik kenners geword het. Elke persoon het ‘n oplossing en ‘n opinie. Agv mense se frustrasie lewer hulle op alles kommentaar en spoel hul monde uit op sosiale media en in gesprekke. Die ergste is, dit bring ons nie nader aan ‘n oplossing nie.
Nou hoe nou? Eerskomende Sondag begin ons met ‘n reeks “in Jesus se spoor”. Dit vra dat ek anders sal wees as die res van die samelewing. As gelowiges het ons die verantwoordelikheid om lig in die duisternis te wees. Ons moet die baken van hoop wees, want ons het die Heilige Gees. Ons aanbid ‘n lewendige God. Dit vra dat ek kalm sal bly in hierdie tyd, eerder stil sal bly as om my mond uit te spoel. Mense te help wat swaar kry. Dit vra van my verantwoordelikheid:
  • 1. Pas jouself en jou gesin op. Mense word baie siek.
  • 2. Kom jou finansiële verantwoordelikhede na as jy dit kan bekostig. Ons kan mos nie redeneer dat die kinders gaan nie nou skool toe, so ek gaan nie my skoolgeld betaal nie. Dis onverantwoordelik. Dit is ‘n domino effek. Die skool/buitemuurs ens het ook uitgawes en verantwoordelikhede. Hulle moet ook salarisse betaal en kos op hulle tafel sit. Hulle het ook nie gekies om in die situasie te wees nie.
  • 3. Moenie selfsugtig wees nie. In ‘n tyd soos hierdie moet ek en jy die verskil wees in die wêreld, nie-gelowiges moet ons omgee en liefde sien. As jy dit kan bekostig deel met hulle wat nie het nie. Saam is ons beter.
  • 4. Wees versigtig wat jy sê en doen. Die wêreld se oë is op ons gerig.
  • 5. Wees jy ‘n stem vir hulle wat nie ‘n stem het nie.
  • 6. Al gaan dinge hoe sleg, jy sal altyd iets hê om oor dankbaar te wees.. Kyk maar net bietjie rondom jou.
  • 7. Wees liefde en leef liefde..
PS: Jy is die verskil..
Groete
Rikus

Related Posts

Recent

Archive

Categories

Tags