n Nuwe seisoen - Charné Viljoen

Ons begin hierdie kwartaal met n seisoen van dankbaarheid. Ons is dankbaar vir die fisiese winter wat verby is, maar dalk beleef jy nog n winter seisoen in jou lewe. God kom stel ons gerus deur die skepping en wys dat winter weer verby gaan en die somer weer sal kom, al voel ons winter seisoene soms net te lank. Die somer kom weer... Somer is gewoonlik n tyd van lewe en kleur en nuwe dinge. Daarom wil ek gesels oor nuwe lewe en kleur. Barbara Brown Taylor het n boek geskryf genaamd An altar in the world waarin haar eerste hoofstuk begin met “Die praktyk van ontwaking tot God”. Hierin bemoedig sy die leser om opnuut wakker te word vir dit wie God is en hoe ons God beleef. God het geskep en daarom kan ons iets van God in die natuur beleef. Die mens is volgens die beeld van God geskape en daarom kan ons, wanneer ons in die spieël en na ander kyk, iets van God raaksien.
In die seisoen van dankbaarheid is dit egter nodig om raak te sien wat daar is of dan nie is nie om voor dankbaar te wees. Raak opnuut bewus van die voëltjies wat vroegoggend tjirp, want in die winter is hulle nie daar nie. Raak bewus van die mense rondom jou en waardeer elkeen van hulle, want jy weet nie wanneer hulle nie meer teenwoordig gaan wees nie. Raak bewus van God se werking in jou lewe en moenie aanvaar dat God nie teenwoordig is, omdat jy Hom nie noodwendig tasbaar beleef nie.
My kollega het in laas week n plasing op Facebook gemaak van dankbaarheid: “Moenie dinge los vir spesiale geleenthede nie, want om te lewe is n spesiale geleentheid.” Raak bewus van al die spesiale geleenthede waarin jy elke liewe dag ook iets van God se teenwoordigheid kan ervaar.
Geniet die laaste kwartaal van 2019 en raak bewus van die ‘spesiale geleenthede’ waar jy God kan beleef.
Pellissier Groete
Charné Viljoen (Mathewson)

Related Posts

Recent

Archive

Categories

Tags