Maklike antwoorde - Francois Lamprecht

My mond het letterlik oopgehang. Ek kon nie glo wat ek hoor nie. Haar ouma is dood omdat die mense in die NG Kerk nie reg gebid het vir haar nie!
Dis nou al meer as 15 jaar terug toe ek dit gehoor het van ‘n meisie wat in ‘n bekende charismatiese kerk in Bloem was. Sy het met trane in haar oë vertel oor hoe sy “geleer” het by haar nuwe kerk dat dit die rede is waarom Ouma dood is. As haar charismatiese kerk se mense maar net gebid het vir haar sou sy nog geleef het.
Ek kon nie glo dat iemand sulke snert kon glo nie. Maar ons hou van maklike antwoorde al is dit vieslike antwoorde.
Ek het self die laaste week so gemaak. Toe die klein Amy'Leigh ontvoer is het iets in my hart skeef gedraai van die angs. “Is dit nou die tipe wêreld waarin ons leef?” het ek myself gevra. Waar my kind sommer net so gevat kan word. Toe sy terug gevind is het ek gejuig. Maar toe die nuus uitkom dat een van die ouers se kollegas iets daarmee te doen het was ek eers verlig. Ek was so dankbaar daaroor. Hoekom? Want dit het die ontvoering effe meer verstaanbaar gemaak en minder random. Hoekom maak dit my bly?
Vir dieselfde rede waarom ek elke keer as ek hoor iemand is beroof, aangeval of met ‘n siekte gediagnoseer heel eerste wonder: Wat het hulle verkeerd gedoen? Het hulle diefwering? Veiligheids deure? Alarm? Was hulle onverantwoordelik? Het hulle leefstyl hulle ontbloot aan iets gevaarlik? Ek doen dit nie omdat ek wreed wil wees nie. Ek doen dit omdat ek opsoek is na iets wat ek kan doen om te verseker dit gebeur nie met my nie. As ons ‘n rede kan vind, al is dit wreed, gee dit my ‘n handle waarmee ek die onvoorspelbaarheid van die lewe se seer bietjie weg kan hou.
Goedkoop godsdienstige antwoorde doen dieselfde. Dit probeer God meer voorspelbaar maak. Dit probeer seer en vrees mak maak. Soos om te glo Ouma is dood omdat ek nie reg gebid het nie. Dis aaklig, maar as ek nou net reg bid vir ander mense wat ek liefhet sal ek die dood kan weghou en God dwing om hulle te spaar. Aaklige, maklike antwoord.
Dis natuurlik leuens. Verkoop deur kerke en leiers wat goed weet waarvan ons swakheid hou. Wat wrede, maar maklike antwoorde gee oor seer, seksualiteit, dood, siekte en natuurlik finansiële sukses. As ek glo kanker is die oorsaak van onbelyde sonde van my voorouers, my kind se seksualiteit kan “reg” gebid word en ek kan God dwing om my te genees met die regte formules vir my gebed dan lyk die wêreld effens meer voorspelbaar en die vrees word ‘n bietjie minder. Maar dis bog. Nonsens. En vroeër of later moet ons almal die stukkende sy van hierdie wêreld in die oë staar.
God kan nie manipuleer word nie. Die lewe kan nie getem word nie. Maar God kan vertrou word om elke oomblik van die lewe, elke tree deur die seer by jou te wees. Jy kan die lewe nie voorspel nie, maar jy kan weet dat God by jou is. Jy is nooit alleen nie. Wees asseblief versigtig vir maklike antwoorde. Vlug vir kerke wat sulke formules verkoop. Soek geloofsgemeenskappe wat mekaar vashou deur die seer.

Related Posts

Recent

Archive

Categories

Tags