Gesonde Huwelik - Charles James

As deel van ons nuwe fokus “Gesonde ons” staan ons hierdie week stil by “Gesonde huwelike”. Huwelike beleef ’n ongekende druk. Daar is baie faktore wat hiertoe bydra en ’n nuusbrief is heeltemal te kort om alles aan te spreek. Ek wil egter kortliks gesels oor die werksdruk waaronder beide mans en vroue in die huwelik verkeer. 1 Petrus 3:8 noem onder andere dat ons “medelydend” met mekaar moet wees. Wat beteken dit vir huweliksmaats onder groot druk verkeer?
Werksdruk veroorsaak op die oomblik baie spanning in huwelike. In die meeste gevalle moet beide man en vrou werk om die pot aan die kook te hou. 
Dit stel baie ekstra eise aan die werkende vrou. Sy moet absoluut alles wees: 'n huishulp, 'n ma, 'n huisvrou, die bestuurder van 'n taxi, 'n kok, 'n minnares vir haar man. Daar is net nie 'n einde aan die lysie van alles wat sy moet doen nie. Sy moet as't ware 'n supervrou wees. Die heel beste wat haar man in hierdie omstandighede kan doen, is om medelye te hê: om saam met haar te ly in die druk wat sy ervaar. Hy moet haar help om haar las te dra.
Hy kan nie verwag dat sy soos in die ou dae alles moet doen nie. Hy kan nie net huis toe kom om bedien te word nie. Om die waarheid te sê, as 'n man eenvoudig aanvaar dat sy vrou alles by die huis en met die kinders moet doen, is dit 'n kitsresep vir ’n gebroke huwelik.
'n Vrou, vandag se vrou, het medelye nodig. Sy het die verstaan en ondersteuning van haar man nodig. Hy moet help met die skottelgoed en die kinders in die bed sit en saam die vergadering by die skool bywoon.
Presies dieselfde waarheid geld vir die vrou. 'n Vrou moet medelye met haar man hê. 'n Vrou moet probeer om haar man te verstaan. Daar was nog nooit so 'n klem op produktiwiteit soos vandag nie. Dit was nog nooit so moeilik soos in ons tyd vir 'n man om sy werk te behou nie. Die punt wat ek teenoor die vrouens wil maak, is: laat jou man toe om sy werk te doen. Moenie in sy pad staan nie. Moenie die heeltyd kla omdat hy al weer moet gaan werk nie. Moenie gedurig verwyte slinger omdat sy werk so baie van sy tyd opeis nie. Jy moet medelye hê met jou man. Jy moet saam met hom ly. Probeer hom verstaan. Verstaan dat jou man diep binne soos 'n klein seuntjie is, met 'n behoefte aan waardering, vertroeteling en belangstelling.
Daarom moet daar medelye in die huwelik wees, begrip en verstaan van mekaar se omstandighede, se hartseer, se stryd. Loop 'n ekstra kilometer saam met jou man, saam met jou vrou. Jy sal sien dat hierdie medelye wondere verrig. Dit kan julle huwelik verryk en julle baie nader aan mekaar laat groei. 
Onthou, indien dit swaar gaan met jou huwelik, kontak asb. enige van die leraars. Ons sal graag ‘n pad saam met julle stap.
Pellissier groete,

Recent

Archive

Categories

Tags