Voorbeeld - Francois Lamprecht

“Die Kerk moet mos sê wat reg en verkeerd is!”
Ek en ‘n vriend gesels gister hieroor by die kerk en dit laat my dink...
Ek hoor gereeld (veral op sosiale media waar elkeen mos al die wysheid het) dat die Kerk nie meer sê wat reg en verkeerd is nie. “Dis waarom ons samelewing lyk soos dit lyk!” Jy ken dié tipe gesprek. As die Kerk nog vir almal gesê het presies wat hulle mag en nie mag doen nie sal almal geglo het.  Het die Kerk haar stem verloor in die samelewing? Ek glo nie so nie, maar dat daardie stem nie die gesag dra wat dit al voorheen gehad het nie is vir seker so. Wat maak dat mense minder na die Kerk kyk vir lewens riglyne?
Was dit met apartheid?
Of na apartheid?
Dalk in 1857 toe die kerk die eerste keer besluit het om eredienste op grond van ras te verdeel?
Dalk was dit na die verkiesing?
Of het dit met die gay- debat in die kerk te doen?
Het lockdown skuld daaraan?
Ons het pas ons “Gesonde ek” reeks klaargemaak, wat die belangrikheid van gesonde, gebalanseerde lewens in God se diens beklemtoon. Die Bybel leer ons dat die grootste verlies vir die kerk nie in regerings, sinodes of digitale kerkdienste lê nie, maar wanneer die gelowiges in die kerk se lewens totaal oninspirerend is. Wanneer die wêreld kyk na gelowiges en in hulle maar min van God se grootheid en lewe sien, kan jy skree oor wat reg en verkeerd is so hard as wat jy wil- jou lewe praat harder.
Mag ander vandag iets in my lewe sien wat maak dat hulle ook deel van God se Kerk wil wees.

Recent

Archive

Categories

Tags