Ek kyk op - Rikus Hattingh

Toe ek vanoggend wakker word is my gemoed nie so lekker soos wat dit moet wees nie. Dit is baie droog buite. My gedagtes gaan na die boere toe in die Karoo. My hart hart bloei vir hulle. Hulle het niks meer oor nie. Daar is nie eers meer geld om lugtyd of kos te koop nie. Om dit alles te kroon, moet Eskom nou nog “loadshedding’ ook hê.. Bloemfontein lyk soos ‘n vullis hoop. As die wind waai is dit net papiere en stof. Daar is nie eers ‘n wolkie in die lug nie. Gaan dit ooit weer reën? My hart voel nie lekker nie. My telefoon “Biep”. My vrou het my in ‘n “post” op Facebook “getag”. Ek maak dit oop en ek lees die volgende:

Psalm 121 – ‘n Gebed

Ek kyk op na die berge in my pad. Berge wat die lewe sommer self voor my kom inrol het. Wie gaan my hand vat en my help om n ompad te kry, Here? Mense kan nie berge wegrol nie, al wil hulle ook. Mense kan nie die berg van verlang wat so swaar in n mens se hart kom lê, wegvat nie. Verlang na n geliefde wat weg is. n Pa, n Ma, n kind...
Here, en mense kan ook nie die berge tussen twee mense wat lief is vir mekaar, wegvat nie. Berge van misverstand na misverstand, later opgee en laat gaan... en die berg bly, Here.
Ek kyk op na die berge in my pad... Berge van bangwees en alleenwees en onseker wees. Berge van skaamwees. Wie gaan my help om n ompad te kry, Here?
Mense is partykeer bang vir berge. Mens praat mos so effentjies om dit. Partykeer vat jy klippies en pak n groot glimlag op jou berg... en dan is almal bly, want jou berg is nie meer so scary nie.
Ek kyk op na die berge in my pad. Wie gaan my help om verby hierdie een te kom? Ek kan nie my berg optel en na U toe bring nie. Dis te swaar. As ek by U voete kom sit om te bid, kry ek nie die regte woorde om hierdie berg vir U te beskryf nie. Partykeer voel dit asof ek aan hierdie kant van my berg sit, en U sit aan die anderkant.
Ek kyk op na die berge in my pad. Wie gaan my help om verby hierdie een te kom? My hulp kom van Hom wat die hemel en die aarde gemaak het. My hulp kom van Hom wat die mossie se veertjies getel het, van Hom wat vir die swaeltjie krag gee om ver te trek, van Hom wat seker maak dat die Klipspringertjie se voete stewig op die klippe balanseer. Hy wat elke dag n streep op die sand trek, en vir die branders sê julle mag tot hier kom. Hy wat vir die son sê wanneer om te gaan slaap, en vir die maan wanneer om wakker te word.
Dit is Hy wat terugstap op Sy pad om my te kom soek as ek agter die berg wegraak. Dis Hy wat stil langs my kom sit en na my hart luister, as my woorde nie meer kan praat nie. Dit is Hy wat elke dag n mandjie genade langs my neersit, genade net genoeg vir elke dag se klim. Dit is Hy wat my hand vat en my ophelp en tree vir tree saam met my klim. Hy dra my wanneer my voete gly. Hy laat my rus wanneer ek moeg word.
Ek kyk op na die berge in my pad. Wie gaan my help om n verbypad te kry?
My hulp is van die Here wat my oppas. Elke dag ... En dis genoeg.....
Na ek hierdie gelees het is my gemoed heelwat ligter. Ek kan net op God vertrou, Hy sal sorg. Ek vat Izé skool toe. Ewe skielik kyk ek met ander oë vanoggend. Orals dra mense groen en goud. Mense lag en gesels. Hulle is positief. Dalk kan die Bokke nog ‘n worldcup wen. Alles is nie verlore nie. Nog ‘n dag deur God aan ons geleen. Môre reën dit dalk weer..
Groete
Rikus
NB: Woensdag 30 Oktober 2019; 18:00 (auditorium) spesiale gebedsgeleentheid vir die droogte, geweld ens.
Posted in
Tagged with , , , ,

Related Posts

Recent

Archive

Categories

Tags