Opsie B- Deon Langenhoven

Hoe ondersteun ek ‘n vriend/in wat ‘n geliefde aan die dood afgestaan het?
Ek lees tans ‘n boek met die naam “Option B”. Ek het dit begin lees nadat Aletta oorlede is gedurende Desember.
Die naam verwys daarna dat “Option A” die prentjie was wat ‘n mens van jou toekoms het en “Option B” is die nuwe lewe wat ‘n mens moet uitkap sonder jou geliefde……
Mense reageer gewoonlik op twee maniere (volgens Option B), nl met empatie, of dan met “distress”, of angstigheid.
Wanneer ‘n mens empatiese gevoelens het, is jou reaksie gewoonlik dat jy wil help. Wanneer ‘n situasie angs-gevoelens vir ons veroorsaak wil ons natuurlik eerder daardie situasie vermy.
Gevoelens van angs word baie keer veroorsaak deurdat ons nie weet wat om te sê en hoe om op te tree nie.
Hier volg ‘n paar praktiese stukkies raad hoe om hierdie vriend/in by te staan:
# Maak so gou moontlik kontak na die geliefde se dood. Hou die persoon net vas eerder as om die “regte dinge” te probeer sê. Indien jy net kan bel hou dit kort en sê net dat jy jammer is en sê iets oor sy/ haar pyn wat jy jou nie eers kan indink…..
# Wees verkieslik fisies teenwoordig. Maak seker die persoon weet jy is altyd beskikbaar vir hom / haar.
# Help waar jy kan met praktiese uitdagings eerder as om net te sê as daar enigeiets is waarmee ek kan help......
# Luister eerder as om te praat of raad te gee.
# Nooi die persoon saam na positiewe opbouende aktiwiteite....
# Bid saam en vir die persoon......
# Moedig die persoon aan om hulp te kry as jy dink dit is nodig.
# Die vraag: Hoe gaan dit “Vandag” wys daarop dat jy empatie het met sy/ haar situasie.
# Onthou die gesondword proses kan maande neem. Moenie die persoon net “afskryf” as hy/ sy op ‘n stadium buitengewoon optree nie. Wees steeds daar vir hom/ haar.
Indien ons nie vra hoe dit regtig gaan nie en nie belangstelling toon nie, kan die persoon wat rou maklik dink dat ons nie omgee nie….. Onthou, ons is gestuurdes om ook ons mede-gelowiges te ondersteun wat rou. Die dood is deel van die lewe, môre het jy dalk die ondersteuning nodig.
Indien jy dalk meer wil gesels hieroor kan jy my gerus kontak by die kerkkantoor, of op my selfoon (082 739 3602).
Ek wil ook net weer BAIE BAIE DANKIE sê vir al die wonderlike ondersteuning wat ek van so baie van julle ontvang het en nou nog ontvang! Ek beleef dit as deel van Vader se onbeskryflike seën en genade in hierdie uitdagende tyd vir my……
“Treat others as they want to be treated. There is no one way to grieve and no one way to comfort”.
*Skrywers van Option B is Sheryl Sandberg en Adam Grant.
Groete
Deon Langenhoven
Posted in
Tagged with , , ,

Related Posts