Geregtigheid - Charné Viljoen

As jy my ken sal jy weet dat ek lief vir kinders is. Ek het al so baie by kinders geleer waaroor die lewe gaan deur hulle opregtheid, eerlikheid en geloof. Hulle sien die mooi en klein goedjies raak, hulle skroom nie om ‘n eerlike opmerking te maak nie en hulle glo in God sonder bymotiewe. Ek is daarvan vas oortuig dat ons meer na kinders moet kyk om te sien hoe om die lewe te geniet.
Maar my hart raak seer wanneer ek sien wat in die wêreld aangaan. Ek sien deesdae baie berigte op sosiale media oor mensehandel, spesifiek van kinders. Daar is video’s waar kinders uit winkelsentrums weggevoer word of pogings van waar oortreders kinders probeer gryp. Die kinders waarna ek so opkyk, word onder ons oë van ons af weggeneem vir gruwelike misdade.
Ek skryf vandag nie hierdie gedeelte om dit in jou gesig te druk dat daar wrede goed in die wêreld aan die gebeur is nie, want jy weet dit! Ek skryf hierdie vandag om jou opnuut bewus te maak daarvan dat God my en jou roep om op te staan teen ongeregtighede! Vanuit die Bybel leer ons dat God ‘n God van geregtigheid is en ook dat ek en jy ‘n verantwoordelikheid het om in liefde op te staan vir dit wat reg is.
“Wat gaan my klein opmerking in ‘n see van ongeregtigheid maak?” Niks! Maar jou opstaan en doen kan ‘n persoon se lewe verander. In die 1953 vertaling in Romeine 6:20 staan daar: “(20) Want toe julle diensknegte was van die sonde, was julle vry van die geregtigheid.” Dit beteken dat jy nie so moes leef dat daar geregtigheid geskied nie, maar nou dat jy vrygemaak is van jou sonde, het jy ‘n verantwoordelikheid om so te leef dat geregtigheid kan geskied. Dalk is die ongeregtigheid wat jy raaksien nie mensehandel nie, maar iets anders. Laat toe dat God jou oë oopmaak vir die ongeregtigheid rondom jou en laat toe dat die Heilige Gees jou lei om ‘n verskil te maak.
Jy hoef nie die wêreld te red nie, Jesus Christus het dit klaar gedoen. Jy kan wel Sy hande en voete in die wêreld wees, deur gehoorsaam te wees wanneer Hy jou stuur!
Groete.
Charné

Related Posts

Recent

Archive

Categories

Tags