Dankbaar - Rikus Hattingh

Ek voel bietjie negatief… maar..
Die afgelope paar weke se nuusgebeure het waarskynlik ons almal 'n bietjie negatief gemaak, tot so 'n mate dat ek besef het dat ek my vreugde stukkie vir stukkie verloor. Ek het nog nooit gewens ek kan die land verlaat nie, maar ek het regtig die afgelope tyd baie hartseer (en kwaad) geword dat ons mooi land nou totaal stukkend gebreek is, amper soos Die Lappop liedjie se Lappop wat net eenvoudig weggegooi moes word.
Maar weet jy, daar kom tog momente waar ek net weer bietjie anders oor dinge moet dink, te midde daarvan dat my vreugde gesteel is.
Was jy al ooit dankbaar dat jy 'n toilet kan spoel? Behalwe vir die gebruik van 'n toilet, net om dit te kan spoel. Persoon A is 'n gestremde jong man wat nie 'n toilet kan spoel nie, hy is in 'n rolstoel, hy kan nie eers self 'n toilet gebruik nie want sy arms staan permanent in die lug. Weet jy wat? Ek wens ek het soveel vreugde soos persoon A. Persoon B is gesigsgestrem, besit natuurlik nie 'n motor nie, en weet nie hoe lyk 'n eenvoudige mooi sonsondergang nie. Ek wens ek het soveel vreugde soos persoon B. Pesoon C kan net haar kop beweeg, maar as ons gesels vertel sy my hoe dankbaar sy is dat sy nog lewe. Hier anderkant in Botshabello woon 'n klein verhongerde seuntjie en eet bitter selde, kom ons noem hom Thabiso. Ek wens ek het soveel vreugde soos Thabiso as hy homself smerig vuil speel in die stof. Terwyl persoon D sterwend was aan kanker, het hy meer vreugde gehad as ek.
En so kan ek aangaan. En al hierdie persone woon saam met my in hierdie stukkende land, maar hulle het vreugde, meer as ek. Kan ek nog baie verloor? Natuurlik! Ek het persoonlik nog niks verloor nie. So, wat steel my vreugde? Dis NET my gesindheid. Jy sien, al hierdie mense wat ek hier genoem het (en ek kan hordes meer noem), is lief vir die Here. En voorts is daar miljoene wat nie eers die Here ken nie, wat tonne vreugde beleef. "Here, wys vir my meer A’s en B’s en C’s en D’s, en vergewe my dat ek my eie vreugde steel."
Rikus

Related Posts

Recent

Archive

Categories

Tags