Zinzi Madela skel wittes...

Wit Suid-Afrikaners is “gronddiewe” en “apartheidsapologete” wat net soos ongenooide gaste... weier om te loop”, het Suid-Afrika se ambassadeur in Denemarke, Zinzi Mandela, in ‘n uitbarsting op die sosialemediaplatform Twitter getier. ‘n EFF LP in die parlement skreeu oor haar mikrofoon dat Afrikaans ‘n walglike taal is...
Aan my lyf voel ek hoe die rassespannig in ons land daagliks in ‘n onheilspellende kurwe opwaarts beweeg. Ek vang myself dat hierdie berigte van rassehaat my gemoed en roeping soos ‘n nat kombers oordek, dat die vlam van versoening en eenheid tussen gelowiges oor alle taal- en kultuurgrense heen, wat al die jare so sterk in my hart brand, begin afkoel...
Maar op Vrydag 21 Junie gebruik die Here ‘n insident om die vlam en roeping vir ons mooi land, weer aan die brand te steek. Ek en Carien het na Binnelandse Sake se kantoor in Botshabelo gery om ons paspoorte te hernu. Ons belewenis is dat ons daar baie vinniger gehelp word as in Bloemfontein. Toe ons egter by die deur instap, word ons begroet met ‘n stampvol saal. By die deur staan ‘n mans persoon wat ons van ‘n nommer voorsien. Ek gee my ou paspoort en hy skryf ‘n nommer 84 agterop. Net voor hy Carien se paspoort neem, lui sy telefoon. Nadat hy klaar gepraat het, kyk hy na Carien en vra vir haar: “Are you a teacher at Oranje Meisieskool?” Verbaas antwoord sy “Yes.” Hy roep my terug verander ons nommers na VIP. Dadelik word ons na die vingerafdrukke en fotoneem punt geneem. Ons het skaars in die lang tou gaan sit, toe word ons vorentoe geroep. Binne 15 minute is alles afgehandel...
En toe kom ‘n swart dame glimlaggend aangestap, en sy omhels Carien. Haar naam is Mosidi Ncokazi. Carien het vir haar rekeningkunde in 2003 in Oranje gegee en sy het Carien herken toe sy by die deur instap. Sy het haar B. Com graad en LLB aan Kovsies voltooi en werk nou by Binnelandse Sake. ‘n Pragtige, borrelende dame wat in perfekte Afrikaans vertel van haar gesin, haar man en haar twee kinders en haar liefde vir die Here. Haar oudste is in Graad 1 in Oranje Primêr.
Toe ons wegry bid ek saggies: “Dankie Here dat die vingerafdrukke van u liefde te vind is in mense van alle tale en rasse.”
Die lede van die Gemeente Raad van Pellissier het mekaar uitgedaag om die volgende maand iemand van ‘n ander kultuur te nooi vir ete. In ‘n omgewing waar rassehaat aangeblaas word, wil ons as God se gestuurdes kies om nuwe verhale van hoop te skep en dit met die wêreld te deel!
Mag ek en jy, daar waar ons elke dag leef, draers van die GOEIE NUUS wees! Mag hulle wat na ons kyk, sien en beleef dat ons as begenadigdes vanuit die verlossing in Jesus Christus leef!
Charles James
Posted in
Tagged with , , ,

Related Posts

Recent

Archive

Categories

Tags