Buy a donkey... - Charles James

“Buy a donkey” – die manier om ‘n uitlander te help om “Baie dankie” uit te spreek.
Vrydagaand 5 April. Die ouditorium se deure word om 18:15 oopgemaak en mense stroom die kergebou binne. Sommer gou is byna elke sitplek in die ouditorium gevul. Terwyl ons wag vir die vertoning om te begin, speel ‘n videogreep van die gemeente. ‘n Diep dankbaarheid spoel oor my. Dis lekker om deel van die Pellissier-geloofsfamilie te wees. Ek dink aan almal se betrokkenheid. Die padkafee wat vanaf 17:00 soos ‘n ge-oliede masjien loop, soveel lidmate wat op verskillende plekke en maniere met hulle gawes dien. Dan dink ek aan ons ons seisoen van “Dieper”, die geloofsreis waarop God ons as gemeente lei en ek wonder watter groot avonture vir die gemeente voorlê. Om 19:00 storm Frank Opperman die ouditorium binne met ‘n bulderende “skoolhoof” stem. Vir die volgende uur beeld hy op ‘n skitterende wyse, soms komies snaaks en soms diep ernstig, die uitdagings van die onderwys in ons land uit. Ek kyk na die mense voor my. Ek sien baie onderwysers en skoolhoofde, meeste lidmate van Pellissier gemeente. ‘n Diep gevoel van dankbaarheid en empatie spoel oor my. Vandag wil ek vir elke skoolhoof en onderwyser sê: “Dankie! Dankie vir alles wat julle vir ons kinders doen. Dankie vir julle onbaatsugtige uitleef van julle roeping binne ‘n uitdagende konteks. Mag God julle die krag gee om julle roeping getrou uit te leef.”
“Buy a Donkey” aan elke onderwyser...
Charles James

Related Posts

Recent

Archive

Categories

Tags