Vir die laaste paar dekades is die NG Kerk betrokke by diepsinnige en soms uitdagende gesprekke rakende selfdegeslag verhoudings. Vir te lank het ons mede gelowiges leer ken wat met hul eie seksualiteit worstel om mee te glo dat hulle net moedswillig of ongehoorsaam is. In diep afhanklikheid aan God het ons kerk vir jare saam gebid, saam gepraat en saam gedink oor ons eie verstaan van seksualiteit en oor wat God vir ons deur Sy Woord daaroor sê.
Op tye was dit 'n moeilike gesprek en soms was dit byna onmoontlik. Ons het seergekry en ons het seergemaak. Maar een ding wat die NG Kerk nie gedoen het nie was om weg te skram van die moeilike reis.
Pellissier gemeente het hierdie selfde aanslag gekies. Ons het aanhou reis en aanhou soek na God se hart vir gelowiges wat in sommige aspekte anders as ons is. In die proses kry ons kerk baie kritiek van partye wat glo dat daar simplistiese antwoorde op hierdie onderwerp is.
Wat hier volg is ons eie reis met die onderwerp en daarna die nuutste besluit van die NG Kerk na aanleiding van Oktober 2019 se sitting van die Algemene Sinode.
Aan die einde is 'n uitnodiging vir elkeen wat hierdie lees.

Pellissier Gemeente se Selfdegeslag reis.

Na die 2015 besluite rakende selfde geslag verhouding het die Gemeente Raad van Pellissier Gemeente besluit om op ‘n geloofsonderskeidende reis te gaan rakende selfde geslag verhoudings (SGV). Hierdie reis is gedurende die eerste helfte van 2016 onderneem en daar is na verskillende teoloë, kundiges, ouers met homoseksuele kinders asook homoseksuele mense
self geluister. Hierdie reis het ons by sekere insigte gebring en sake van konsensus is deur die gemeenteleiers bereik. Ons deel graag weer wat ons gehoor het.

HOE ONS NA MEKAAR BEHOORT TE LUISTER
Ons glo dat elkeen ‘n gesindheid moet hê om sy standpunt(e) te laat toets en elkeen moet bewus wees dat ons met ‘n bepaalde “bril” na die saak van SGV kyk. Ons moet deurgaans poog om na God se wil in die saak soek. Dit is gesond om na mense te luister wat ander standpunte as ons het en om oop moet wees om ons eie standpunte te toets.

INSIGTE VANUIT DIE SIELKUNDE
Nadat ons na die nuutste navorsing in die sielkunde geluister het, het ons tot die insig gekom dat ‘n mens se seksualiteit nie ‘n keuse nie is. Ons stem ook saam dat seksualiteit op ‘n kontinuum lê en dat die oorsaak van homoseksualiteit ‘n baie komplekse saak is en waarskynlik gepaard gaan met ‘n kombinasie van baie faktore.

HOE ONS DIE BYBEL GEBRUIK
Wanneer die Bybel gebruik word om oor SGV te dink, is dit belangrik dat ons as gelowiges die taak het om, onder leiding van die Heilige Gees, die Bybel met groot verantwoordelikheid te interpreteer en soms te her-interpreteer. Om verantwoordelik met God se Woord om te gaan, moet ons weet dat:

- ons God se leiding nodig het;
- die Here medegelowiges se insigte gebruik om ons te help met die interpretasie van die Bybel (geloofswaarhede behoort nie aan individue nie, maar aan geloofsgemeenskappe);
- ons die wetenskap nodig het om tekste verantwoordelik te interpreteer en soms te her- interpreteer.
- ons altyd daarteen moet waak dat ons interpretasie en her-interpretasie van die Bybel nie die kern geloofswaarhede van die Bybel, soos vervat in ons belydenisskrifte, in gedrang bring nie.

Ons stem saam dat die konsekwente boodskap dwarsdeur die Bybel is dat ‘n huwelik plaasvind tussen ‘n man en vrou.

Ons moet daarteen waak om die Bybel klinies te “dissekteer”. Ons moet die Bybel verantwoordelik en vanuit ’n verhouding met God lees. Dit is belangrik dat ons ons moet bevriend met mense wat anders as ons is: Armes, homoseksuele persone, ateïste ens. Probeer om beter te verstaan…. Ons moet verander van “fixers” na reisgenote met deernis.

 Tekste soos Levitikus 18, 20 en Romeine 1
‘n Deeglike studie van die histories konteks en literêre genre waarbinne tekste in die Bybel opgeteken is, is nodig vir die diepere verstaan van Bybel gedeeltes. In die konteks van Levitikus 18:22 stem ons saam dat homoseksuele dade van heteroseksuele manlike persone veroordeel word. Die konsep van ‘n homoseksuele oriëntasie het nog nie in die antieke tyd bestaan nie en daar is ook nie so ‘n woord in die antieke Hebreeus nie. Die interpretasie van die Skrif verander van tyd tot tyd en enige interpretasie bly subjektief. Verantwoordelike her-interpretasie van die Skrif bring nie die gesag van die Skrif in gedrang nie. Ons is deeglik bewus dat daar verskillende interpretasie moontlikhede vir bogenoemde tekste is.

 OPMERKINGS VAN GEMEENTE OUERS MET KINDERS MET ‘N HOMOSEKSUELE ORIËNTASIE
Dit het ons gehelp om na die belewenisse van gemeentelede te luister wie ouers is van ‘n kind met ‘n homoseksuele oriëntasie. Ons het die volgende by hulle gehoor:

- Wanneer jy met jou eie kind se homoseksualiteit gekonfronteer word, raak dit jou baie diep;
- Ons is oortuig dat ons kinders se seksuele oriëntasie nie ‘n keuse was nie;
- Eers toe ons kinders met hulle eie seksuele oriëntasie kon vrede maak, kon die pad van herstel begin;
- Vir ons kinders was hulle seksuele oriëntasie ‘n geweldige innerlike stryd en hulle het almal op ‘n stadium van hulle stryd selfdood oorweeg;
- Ons kinders het die kerk se rol in hulle stryd met hulle seksuele oriëntasie baie negatief ervaar en dit was vir hulle moeilik om hulle stryd rondom hulle seksuele oriëntasie met vrymoedigheid in die kerk te kon deel.
- Ons as ouers het ‘n groot behoefte aan begeleiding om te help om gesonde, oop verhoudings met ons kinders te hê sodat hulle met vrymoedigheid hulle worstelinge (van watter aard ook al) met ons kan deel.
- Ons as ouers wil graag ons dankbaarheid uitspreek teenoor Pellissier Gemeente wat vir die luisterproses rakende selfde geslag verhoudings.

OPMERKINGS VAN PERSONE MET ‘N HOMOSEKSUELE ORIËNTASIE
Nadat ons na persone met ‘n homoseksuele oriëntasie geluister het, het ons die volgende gehoor:
- Ons seksuele oriëntasie was nie ‘n keuse nie. Ons sou graag heteroseksueel wou wees. Aanvanklik het ons alles probeer om ons oriëntasie te verander (gebed, bevryding, heteroseksuele verhoudings ens.) maar dit wou nie verander nie.
- Ons het ‘n diep behoefte vir aanvaarding deur ons gesinne, die kerk en die gemeenskap.
- Ons het almal op ‘n stadium selfdood oorweeg.
- Ons het ‘n intieme verhouding met die Here maar daar is ook tye van stryd en stoei met God oor ons seksuele oriëntasie.
- Ons kan getuig hoe ons God se genade beleef en hoe Hy ons in ons stryd kom ontmoet.
- Ons het ‘n diep seer in die kerk beleef het en baie ander persone met ‘n homoseksuele oriëntasie beleef dit steeds. Daar is egter ook verhale waar homoseksuele mense waarlik kon tuis kom in gemeentes.
- Ons het ‘n geweldige vrees beleef om ons seksuele oriëntasie aan ons ouers bekend te maak, maar was baie verlig toe hulle ons steeds aanvaar het.
- Ons het ‘n bevryding beleef toe ons vrede gemaak het met ons seksuele oriëntasie.
- Ons moet mense met respek hanteer en ruimte skep waar God in sy groot genade met elkeen ‘n unieke pad kan stap.
- Ons het ‘n behoefte om in ‘n liefdesverhouding met iemand te wees.
- Ons Christenskap mag nie deur ons seksuele oriëntasie gedefinieer word nie.

Na afloop van die proses is daar groter begrip vir die denkwyse wat gelei het tot die besluite wat die Algemene Sinode oor selfde geslag verhoudings geneem het. Daar is ook begrip vir lidmate wat ongemaklik was/is met die besluite.

 In Pellissier Gemeente wil ons, waar daar nie konsensus oor ‘n sekere saak nie, ‘n pad kies waar ons saam reis en nie klippe na mekaar te gooi of mense in kampe te verdeel nie. Ons glo dat wanneer ons in die geval van selfde geslag verhoudings bloot die simplistiese vraag vra of dit sonde is of nie, ons ‘n baie komplekse saak oorvereenvoudig en dat so ‘n antwoord sal lei tot verdere verdeling. In die dialoog oor selfde geslag verhoudings moet elkeen optree soos wat sy oortuiging hom lei, MAAR hy moet ruimte laat vir ander se omstandighede, ander se oortuigings en nie aanstoot gee aan ander gelowiges nie. Onvoorwaardelike liefde is dié gesindheid waarmee gelowiges met (enige!) mens in verhouding behoort te tree (God sal self sy eer verdedig).

Indien ons by ‘n swart of wit antwoord probeer uitkom, gaan die gesprek waarmee ons besig is baie moeilik 'n wen-wen situasie oplewer (ons sal ruimte moet laat vir verskillende standpunte). Mense buite die kerk beleef die kerk dikwels as arrogant en veroordelend. Daarom kies Pellissier om steeds biddend en met groot deernis op reis te wees rondom die saak van selfde geslag verhoudings…

Indien daar enige vrae is oor die gemeente se reis rakende selfde geslag verhoudings, is jy meer
as welkom om enige van die leraars te kontak.

NG Kerk 2019 - Selfdegeslag Verhoudings Besluit

Die NG Kerk se Algemene Sinode is daartoe verbind om geloofsonderskeidend wysheid te vind oor moeilike etiese sake. Die Bybel, as die Woord van God, is die basis van ons nadenke oor ons identiteit en dissipelskap.

Na ‘n lang en moeisame proses van studie, gesprek, luister en onderskeiding het die Sinode nou die volgende besluit oor selfdegeslagverhoudings geneem:
1. om die 2015-besluit van die Sinode op grond van prosedurele redes ter syde te stel;
2. dat

1. Die Algemene Sinode neem kennis dat verskille in die kerk ten opsigte van Skrifhantering en Skrifuitleg tot vasgelooptheid gelei het, en dat voortgaande besinning oor verantwoordelike Skrifuitleg steeds nodig is.
2. Die sinode bely egter dat die eenheid van die kerk gefundeer is in ’n eenheid met Christus en die belydenisgrondslag, en dat hierdie  eenheid nie verbrokkel wanneer daar oor Skrifhantering en Skrifuitleg ten opsigte van hierdie saak verskil word nie, maar verryk en verdiep word.
3. Die sinode is verbind tot ’n voortgaande en nederige diepe luister na mekaar, met respek vir mekaar se uiteenlopende benaderings, Skrifhantering en hermeneutiek.
4. Die Algemene Sinode moedig gemeentes aan om voort te gaan met die skep van gesprekruimtes vir gesonde geloofsonderskeidende gesprekke oor hierdie (en ander) teologies-etiese kwessies, en toe te sien dat:
4.1 hierdie ruimtes inklusief en divers bly;
4.2 nie oor ánder te praat nie, maar eerlik en broos vanuit die eie posisie, en
4.3 daar werklik erns gemaak word met die Woord van God.
5. Die Algemene Sinode respekteer kerkrade se reg om geloofsonderskeidende gesprekke in hulle eie kontekste te voer en moedig kerkrade aan om deurdagte en verantwoordelike besluite te neem.
6. Die Algemene Sinode moedig kerkrade aan, om by die aanwysing van persone in die ampte, lidmate se:
6.1 doop, belydenis, roeping, spiritualiteit en getuienis van leer en lewe,
6.2 toegang tot die sakramente,
6.3 integriteit van verhoudings, en
6.4 geskiktheid vir die spesifieke rol in ag te neem
6.5 ongeag ras, geslag, klas of seksuele oriëntasie en -identiteit.
7. By die legitimasie van teologiese studente, moet die studente se:
7.1 doop, belydenis, roeping, spiritualiteit en getuienis van leer en lewe,
7.2 toegang tot die sakramente,
7.3 integriteit van verhoudings, en
7.4 teologiese- en bedieningsvorming in ag te neem, ongeag ras, geslag, klas, of seksuele oriëntasie en -identiteit.
8. Die Algemene Sinode erken dat daar:
8.1 kerkrade en predikante is wat nie hulle weg oopsien om burgerlike verbintenisse tussen persone van dieselfde geslag te bevestig nie,
8.2 ook kerkrade en predikante is wat wel hulle weg oopsien om burgerlike verbintenisse tussen persone van dieselfde geslag te bevestig.
9. Die sinode wil graag die ruimte wat vir almal geskep word, om volgens hulle oortuiging op te tree, bevestig. Ook dat daar . span saamgestel word wat elke streeksinode sal besoek om hierdie saak duidelik en deeglik deur te werk. Dit kan ons help om . ingeligte besluit te neem.
10. Die Algemene Sinode dra dit aan ATLAS op om ‘n formulier te ontwikkel vir die bevestiging van burgerlike verbintenisse tussen persone van dieselfde geslag.
11. Die Algemene Sinode
11.1 betreur dat die verloop van die debat en die besluite in die kerk die afgelope jare lidmate verwar en seergemaak het;
11.2 vra gay-lidmate en hulle families wie se menswaardigheid wetend en onwetend misken is, uitdruklik om verskoning vir die pyn wat hulle in die kerk beleef het;
11.3 verbind hom daartoe om in die gees van hierdie besluit ruimtes te skep vir gesprek waarin almal se menswaardigheid gerespekteer word.
11.4 Die Algemene Sinode bedank gay-lidmate wat volgehou het met waagmoedige en konstruktiewe gesprekke in die kerk.
12. Die Algemene Sinode dra dit aan ATLAS op om voort te gaan met studie oor die huwelik en menslike seksualiteit met die oog op terugvoer aan die volgende sinode.
Die volgende besluite is saam met die bogenoemde besluit, steeds geldende besluite van die NG Kerk:

HUWELIK, PROMISKUÏTEIT EN SELFDEGESLAG VERHOUDINGS

Die AS 2007 het die volgende besluite bevestig:
1. Die Algemene Sinode herbevestig die besluit van 2004 dat, volgens ons verstaan van die Bybel, slegs die verbintenis tussen een man en een vrou as 'n huwelik beskou kan word.
2. Die Algemene Sinode bevestig ook die besluit van 2004 dat sowel heteroseksuele as homoseksuele promiskuïteit ten sterkste veroordeel word.
3. Die Algemene Sinode besluit dat, in die lig wat ons tans het, homoseksuele verbintenisse en huwelike nie as . alternatief vir die huwelik aanvaar kan word nie.

Die volgende aanbevelings is ook verder goedgekeur:

 Die Algemene Sinode
1 bevestig dat vorige besluite insake homoseksualiteit, selfdegeslag verbintenisse en huwelike gewysig en/of vervang is met nuwe besluite;
2 bevestig dat vorige besluite oor die huwelik en promiskuïteit steeds die geldende besluite is;
3 versoek dat hierdie besluite volledig in die Kerkordeboek opgeneem word;
4 neem kennis dat besluite oor selfdegeslag verbintenisse vir gemeentes buite die RSA onderworpe is aan daardie land se wetgewing;
5. besluit dat hierdie verslag met die oog op persverklarings die boodskap is wat die Algemene Sinode aan die wêreld bekend sal maak as die huidige amptelike standpunt van die Algemene Sinode. Die Algemene Sinode is daarvan bewus dat al hierdie besluite op verskillende maniere toepaslik is in die lande waarin ons gemeentes teenwoordig is.

Die Algemene Sinode onderneem om met behulp van ‘n taakspan sinodes te ondersteun wanneer daar verder nagedink word oor die betekenis en waarde van die bostaande besluite. Die Sinode hoop dat die bostaande besluite lewegewende ruimte sal bied vir gelowiges met verskillende oortuigings oor die aangeleentheid.

Die vergadering van die Algemene Sinode het in ‘n baie goeie gees plaasgevind. Die lede is daartoe verbind
om die besluit oor Selfdegeslagverbintenisse ten volle te ondersteun.

'n Uitnodiging...

Ons hoop is dat jy saam met ons op hierdie reis sal gaan. Dat jy die integriteit van mede gelowiges sal respekteer al verskil jy van hulle en dat jy en jou gesin werklik hierbinne die ruimte sal vind om 'n lewende verhouding met Jesus Christus te hê.
Praat met ons, ons is lekker mense om mee te praat. Dis vir ons 'n voorreg om die reis saam met jou te neem. Dis ons hoop dat ons saam nader en nader aan God sal groei.
Indien jy graag met ons wil praat of 'n vraag het wat nie reeds in die gedeelte hierbo bespreek word nie, kontak ons gerus!