Die leë stoel - Rikus Hattingh

Verlede week soek ek iets in my motorhuis (kyk nou die mooi Afrikaans). Terwyl ek so soek kom ek af op ‘n stoel wat ek daar gebêre het. Hoekom weet ek nie, maar ek begin dink aan die stoel se geskiedenis. Ek onthou my oom het die stoel vir my gekoop by ‘n pandjies winkel in Ladybrand. Want sien, ek het my prakties op Ladybrand gedoen en die plekkie waar ek gebly het, het ‘n lessenaar gehad, maar nie ‘n stoel nie. Ek wonder toe sommer oor die stoel se geskiedenis. Wie se stoel was dit voor ons dit gekoop het?
 Saam is ek en die stoel deur baie – ek het immers op die stoel gesit toe ek my skripsie geskryf het. Hoeveel aande het ek nie op die stoel gesit en leer vir eksamens nie. Hoeveel preke het ek nie gemaak op die stoel nie.
 Nou staan die stoel in my motorhuis – leeg. ‘n Leë stoel. Dit kom toe by my op – ek wonder oor die simboliek van ‘n leë stoel. Hoeveel “leë” stoele staan daar in mense se huise – kinders wat die huis verlaat het, families wat opgebreek het en nie meer met mekaar praat nie, egskeidings, kinders wat nie meer met hul ouers kontak het nie, iemand wat oorgestap het na die ewige lewe ens. Hoeveel seer is daar in huise agv die leë stoel?
 Ek wonder hoeveel leë stoele staan daar in kerke. Stoele waar mense veronderstel is om te sit. Hoe leë stoele is daar in gemeenskappe? Mense wat nie hulle stoele inneem en ‘n verskil maak nie.
 Ek wonder oor die leë stoel in die hemel?? Die stoel is dalk leeg omdat jy nog ‘n verantwoordelikheid op aarde het, maar daar is ook baie leë stoele omdat Jesus plek vir mense gereed gemaak het, maar hulle het nooit opgedaag nie.
 Dit laat my dink aan die gelykenis van die Bruilof. Almal is uitgenooi, maar almal het verskonings gehad en so uitgemis op die seremonie..
 Hoe lyk die stoel in jou huis? Is hy leeg? Hoe lyk jou stoel in die kerk/gemeenskap? Hoe gaan jou stoel in die hemel lyk?
 Nou kyk ek met nuwe oë na ‘n leë stoel. Hoop die leë stoel laat jou dink soos dit my laat dink het.
 Mooi week.
 Rikus
 NB: Onthou Woensdagaand se geleentheid saam met Adriaan Vlok en Trevor Nthola.
 Moenie vergeet van ons jaarlikse gholfdag op 20 September nie..

Posted in
Tagged with , ,

Related Posts

Recent

Archive

Categories

Tags