Wêreld wat gaan aan met jou?- Charné Mathewson

“Wêreld wat gaan aan met jou? My vader sal jou anders onthou! Sal jy nog hier wees vir…?”
-Reisiger, Refentse
Uit oudergewoonte scroll ek deur my Facebook opsoek na iets interessant, maar eintlik net omdat ek verveeld is.  Die een na die ander #10yearchallenge pop op tussendeur almal wat oor die vakansietyd verloof geraak het.  Almal lyk goed!...  Nie een mens lyk slegter na tien jaar nie, nie EEN nie!  What a time to be alive!  Die feit dat almal wys hoe goed hulle nou lyk, maak dat ek sommer ook ‘n post wil maak van hoe goed ek dink ek lyk na tien jaar!
Terwyl ek verder scroll sien ek nog ‘n #10yearchallenge, maar die een slaan my soos ‘n vuishou op my maag.  Anders as al die ander foto’s wat ek gesien het en maar net verby ge-scroll het, kan ek nie anders as om by hierdie een vas te haak en die foto in detail te bestudeer nie!  Die aarde is besig om teen ‘n gevaarlike spoed warmer te word en die ysberge smelt!  10 jaar terug het die ysbere nog behoorlike habitatte gehad en was daar nog behoorlike woude! 
10 jaar later lyk die aarde nie beter soos die mense doen nie, inteendeel!!
Die woorde “wêreld wat gaan aan met jou?” van Refentse se Reisiger, steek vas in my kop... 
Ons is so vasgevang in die eie-ek van ons tyd dat ons meer bekommerd is oor hoe ons lyk na tien jaar, as die aarde waarop ons woon – die aarde wat God vir ons gegee het om te bewoon en bewerk. 
Ek wil aansluit by Francois se vraag: “Wat erf jou kind?”  Erf jou kind jou geloof by jou deur die voorbeeld wat jy stel?  Erf jou kind ‘n aarde vol lewe om te kan bewoon en bewerk? 
Begin vir jou kinders ‘n voorbeeld stel van ‘n gesonder en volhoubare lewe op aarde!
Laat die spore wat jy agterlos, die spore wees wat jy in ander mense se harte getrap het!
Groete.
Charné Mathewson
PS: Hoewel die herwinningspasie by die kerk tydelik toe is, doen steeds self die moeite om ‘n groener en meer volhoubare lewe te lei!

Related Posts